Headlines

A big catch. A bigger future.

23 October 2026 · Platinum Bushvelder

A big catch. A bigger future.

A catch to be proud of! Johandré Blom with his personal best – a 12 kg carp caught after the attack.

Platinum Bushvelder newspaper | Thabazimbi – A 12 kg carp, laughter with school friends and dreams of becoming a gamer – these are some of the things that fill Johandré Blom’s world today.

The little boy who holds a special place in Thabazimbi’s heart turned nine on Thursday 15 October 2026. After losing his arm in a crocodile attack on 21 March 2025, he has been learning new ways to do everyday things, finding his independence and making time for what he loves.

Platinum Bushvelder has followed Johandré’s recovery. In this follow-up, his family shares the milestones, the difficult days and their gratitude for a community that helped carry them through. He is back at school, plays tennis and padel, and still goes fishing with his dad. His new, lighter prosthetic arm is another step along a journey that takes patience, practice and support.

Above all, his family hopes people will see Johandré for himself: a child with his own humour, interests and dreams, who needs room to grow – and permission to have difficult days too.

Van ’n groot seer tot ’n groot vangs: Johandré droom verder

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – ’n Karp van 12 kg, pret saam met skoolmaats en ’n droom om eendag ’n gamer te word. Dit is van die dinge wat Johandré Blom vandag opgewonde maak – ’n seuntjie wat ná ’n ingrypende tragedie steeds sy eie belangstellings ontdek en aan sy toekoms bou.

Platinum Bushvelder het reeds oor Johandré en sy herstelpad berig. In hierdie opvolg hoor ons hoe dit nou gaan met die seuntjie wat so na aan Thabazimbi se hart lê.

Johandré het op 21 Maart 2025, toe hy net sewe jaar oud was, sy arm in ’n krokodilaanval by Roodekopjesdam verloor. Op 15 Oktober 2026 het hy sy negende verjaardag gevier. Sedert die aanval moes hy en sy gesin by groot veranderinge aanpas, maar daar was ook kosbare mylpale: sy terugkeer skool toe, ’n nuwe prostese en die geleidelike herwinning van sy onafhanklikheid.

Volgens sy suster, Cuné Jansen, is dit besonders om te sien hoe hy aanhou probeer en nuwe uitdagings aanpak. Tog vra sy dat mense sal onthou dat ’n glimlag nie beteken elke dag is maklik nie.

“Hoewel Johandré bekend is vir sy positiewe geaardheid en humorsin, beteken dit nie dat alles altyd maklik is nie. Hy moes leer om met groot veranderinge saam te leef,” vertel sy. Die gesin gee hom ruimte om sy emosies op sy eie manier te verwerk, sonder die verwagting dat hy altyd sterk moet wees.

Elke nuwe vaardigheid tel

Alledaagse take wat eens vanselfsprekend was, verg nou soms meer tyd, oefening en geduld. Johandré probeer egter soveel moontlik self doen en het reeds vaardig geraak om met een hand reg te kom.

Hy het onlangs ’n nuwe, ligter prostetiese arm ontvang. Die prostese is spesiaal vir hom ontwerp en word deur bewegings van sy skouer en bolyf beheer. ’n Haak help hom om voorwerpe vas te hou en sekere take met die ondersteuning van sy prostese aan te pak. Johandré sê die nuwe arm is aansienlik ligter as sy vorige een. Hy leer nog hoe om dit ten beste te gebruik.

By sy skool ontvang hy terapie en fisioterapie, saam met individuele ondersteuning. Hy vertel dat hy baie maats het en die skool geniet. “Dit is vir ons belangrik dat hy aanvaar word vir wie hy is, en nie net vir wat met hom gebeur het nie. Hy is steeds ’n gewone seuntjie wat wil speel, leer en saam met sy maats pret hê,” sê Cuné.

Visstokke, rakette en rekenaarspeletjies

Johandré speel tennis en padel by die skool en het ook steeds ’n groot liefde vir visvang. Hy en sy pa gaan gereeld saam visvang, en sy persoonlike beste vangs is ’n allemintige karp van 12 kg. Rekenaarspeletjies is nog ’n gunsteling. Hy is trots op sy vaardighede en gebruik sy mond en een hand om sy speletjiebeheerder te hanteer. Sy droom? Om eendag ’n gamer te word.

Vir sy gesin is dit belangrik om hom die geleentheid te gee om self oplossings te vind, al is die behoefte om te help soms oorweldigend.

“Ons moes leer om hom sy spasie te gee om dinge self uit te werk, sonder om te veel oor te neem. So graag as wat ons alles vir hom wou doen, moes ons leer om terug te staan en hom te ondersteun,” vertel Cuné.

Dankbaar vir ’n gemeenskap wat omgee

Die aanval het die hele gesin geraak. Ná die aanvanklike skok en bekommernis oor Johandré se lewe het ’n lang tyd van herstel en aanpassing gevolg.

Hulle het nog nie weer die plek van die aanval besoek nie. Volgens Cuné het Johandré gesê hy sal eendag wil terugkeer, maar hy is nog nie gereed nie. Die gesin respekteer dit en sal hom ondersteun wanneer hy wel gereed voel.

Intussen bly hulle diep dankbaar vir die gemeenskap se bydraes. Volgens Cuné het dié ondersteuning gehelp om sy mediese uitgawes, rehabilitasie en ’n prostese te dek. Elke donasie het ’n verskil gemaak.

Bo alles hoop die gesin dat mense Johandré sal leer ken vir die kind wat hy is. “Ons wil hê mense moet verstaan dat Johandré baie meer is as die krokodilaanval en die verlies van sy arm. Hy is ’n kind met sy eie persoonlikheid, drome, humorsin en vermoëns,” sê Cuné.

Met sy negende verjaardag pas agter die rug, is daar nog baie om na uit te sien: nuwe vaardighede, tyd saam met sy maats, nog ’n visvanguitstappie saam met sy pa – en dalk ’n karp wat selfs daardie 12 kg-vangs oortref.

Met sy prostese aan en ’n duim omhoog kyk Johandré Blom die toekoms met ’n glimlag tegemoet.
Met sy prostese aan en ’n duim omhoog kyk Johandré Blom die toekoms met ’n glimlag tegemoet.