Headlines

Deur vuur en vloed vir ’n ander se lewe

Deur vuur en vloed vir ’n ander se lewe

Pieter Lamprecht is in goeie hande! Sy spanmaats is, van links, Severin Meister, Hein Lottering, Hennie van Deventer, Chris Burger, Nathan Webb, Christiaan Lamprecht en Rinus Steyn.

Platinum Bushvelder koerant | Matlabas – Toe ’n veldbrand hom en een van sy werkers vaskeer, het Heinie Röhrbeck die man met sy eie liggaam teen die vlamme beskerm. By Stockpoort het Willem du Toit 14 mense een vir een uit die vloedwater gehaal terwyl Chris Burger die helikopter net bokant die water gehou het. Naby Dwaalboom was ’n babadogtertjie van skaars vier weke, onder die vyf mense wat Wouter Maree en Kahn de Jager te hulp gesnel het.

Dié vyf mans het op Vrydag 20 November 2026 by Tarentaalpan die eerste Wolraad Woltemade-wisseltrofeë van Matlabas Custodians NPC ontvang. Die organisasie het die dapperheidstoekenning ingestel vir mense in die Matlabas-gebied, wat hul eie lewe waag om iemand anders se lewe of lewensbestaan te red.

Die oorhandiging was die hoogtepunt van Matlabas Custodians se jaarafsluiting. Die Voortrekkers het die dag met boeresport afgeskop, en oud en jonk het onder meer aan die toutrek deelgeneem. Daarna het verskeie sprekersgaste meer oor Matlabas Custodians se werk vertel. Ná die verrigtinge het almal om die tafels aangesit vir skaap aan die spit.

Platinum Bushvelder newspaper | Matlabas – When a veld fire trapped Heinie Röhrbeck and one of his workers in 2023, Heinie shielded the man from the flames with his own body. The worker escaped unharmed. Heinie was admitted to hospital with severe burns.

On Friday 20 November 2026, the Matlabas community gathered at Tarentaalpan to honour Heinie and four other men whose courage brought people to safety. Matlabas Custodians NPC awarded its first three Wolraad Woltemade floating trophies for bravery to Heinie, Chris Burger and Willem du Toit, and Wouter Maree and Kahn de Jager.

During the Stockpoort floods in February 2025, a powerful current swept 14 people away. Chris held his helicopter steady just above the floodwater while Willem brought them aboard one by one. At times, people clinging to Willem in panic pulled him under. He kept going until all 14 were safely aboard.

On 19 February 2025, a flash flood struck a farm near Dwaalboom. In heavy rain, Wouter and Kahn had to navigate between power lines and wire fences to reach the people stranded there. With the helicopter hovering above the floodwater, Wouter jumped out to help them to safety. The five rescued were a couple, their four-week-old baby girl and two farmworkers.

Matlabas Custodians established the award to recognise local people who risk their own lives to save someone else’s life or livelihood. The presentation was the highlight of the organisation’s year-end gathering. The Voortrekkers got the day under way with boeresport, including a tug-of-war that drew young and old. Guests heard more about the work of Matlabas Custodians before gathering around the tables for a traditional sheep spit braai.

DRIE TROFEË, VYF PLAASLIKE HELDE

Heinie Röhrbeck – Suid
Die veldbrand wat Heinie en sy werker in 2023 in ’n gang vasgekeer het, het Heinie met ernstige brandwonde in die hospitaal laat beland. Die man wat hy teen die vlamme beskerm het, het ongedeerd daarvan afgekom.

Chris Burger en Willem du Toit – Noord
Tydens die vloede by Stockpoort in Februarie 2025 het sterk vloedwater 14 mense meegesleur. Terwyl Chris die helikopter onder uiters moeilike omstandighede in posisie gehou het, het Willem elkeen gaan haal en aan boord gebring. Mense het in hul paniek soms vir Willem onder die water ingetrek. Hy het aangehou totdat al 14 veilig aan boord was.

Wouter Maree en Kahn de Jager – Wes
Op 19 Februarie 2025 het ’n fratsvloed ’n plaas in die Dwaalboom-omgewing getref. In swaar reën moes Wouter en Kahn met ’n helikopter tussen kraglyne en draadheinings deurkom. Terwyl die helikopter bo die vloedwater gesweef het, het Wouter uitgespring om die mense na veiligheid te help. ’n Egpaar, hul vier weke oue babadogtertjie en twee plaaswerkers is gered.

Die man na wie die trofee vernoem is

Op 1 Junie 1773 het Wolraad Woltemade met sy perd die branders van Tafelbaai aangedurf nadat die De Jonge Thomas skipbreuk gely het. In sewe reddingspogings het hy 14 bemanningslede na veiligheid gebring. Met sy agtste poging het hy en sy perd verdrink.

Matlabas Custodians het agt wisseltrofeë beskikbaar, waarvan drie vanjaar toegeken is. Die trofeë is aan die hele Matlabas-gebied beskikbaar en geen streek het ’n vaste trofee nie. Vir die eerste toekennings is voorvalle tussen 1 Januarie 2023 en 31 Oktober 2026 oorweeg. Die ontvangers hou hul trofeë vir ’n jaar. Die volgende oorhandiging vind in November 2027 by die jaarafsluiting plaas.

OOK HÚLLE HET OPGEDAAG

Elke kwalifiserende genomineerde het ’n medalje ontvang. Die trofeë-ontvangers het ook elk ’n Heldesertifikaat gekry. Die volgende inwoners is met Sertifikate van Waardering vir Onbaatsugtige Gemeenskapsdiens vereer.

Kobus Engelbrecht – Oos
Wanneer veldbrande in die Grootfontein-omgewing uitbreek, help Kobus ook op die buurplase. In 2025 en 2026 het hy met sy eie toerusting die voortou geneem om brande op sy plaas en dié van sy bure te bestry, dikwels tot laat in die nag.

Mike Embleton – Oos
Toe ’n ligte vliegtuig op 29 November 2024 in digte bos naby Lephalale neerstort, het Mike die nooddienste ontbied en te voet oor drie plase na die wrak gesoek. Hy het dit binne een uur en 48 minute bereik. Met sy kaal hande het hy die vlieënier se sitplek uitgeskeur om die vasgekeerde passasier, Clinton Venter, te bevry. Later het hy op sy eie albei vlerke opgelig sodat paramedici by Clinton kon uitkom. Mike het gebly totdat die helikopter Clinton weggeneem het.

Vernon Bennett en Tiennie Duvenhage – Lephalale
Ná ’n noodoproep op plaaslike WhatsApp-groepe in 2025 het Vernon en Tiennie in die donker deur donderweer en swaar reën na die Mokolodam gery. Drie mense was daar met ’n onklaar boot gestrand. Teen die tyd dat die twee by die dam aangekom het, was al drie reeds veilig. Matlabas Custodians het die mans vereer vir hul bereidwilligheid om dadelik te gaan help.

Tienie (Marthinus) Bamberger – Lephalale
Tienie is op 15 Oktober 2025 op die plaas Klipkloof met ’n groot mes aan die regterkant van sy bors gesteek. Ondanks sy ernstige besering het hy homself verdedig en die aanval beëindig. Hy het sowat agt dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring en het daarna herstel. Tienie is ook al jare lank by plaaslike misdaadvoorkoming en gemeenskapsdiens betrokke.

Angelique Loots – Thabazimbi
Of dit nou ’n veldbrand, ’n ongeluk of ’n mediese noodgeval is, Angelique is gereeld een van die eerstes op die toneel. Die brandstof en toerusting waarmee sy ander te hulp snel, verskaf sy self.

Pierre Loots – Thabazimbi
Pierre lei Thaba Fire and Rescue, ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk. Hy staan sy span by tydens veldbrande, ongelukke, mediese noodgevalle en soek-en-reddingsoperasies. Hy deel sy kennis met die span en betaal ook gereeld uit sy eie sak vir toerusting wat hulle nodig het.

Matlabas Custodians het ook die inwoners bedank wie se name selde by ’n prysuitdeling gehoor word. Wanneer ’n buurman laatnag ’n brand op sy plaas probeer keer of iemand op ’n afgeleë pad in ’n ongeluk beland, is dit dikwels dieselfde mense wat die oproep beantwoord. Vanjaar kon die gemeenskap by Tarentaalpan vir ’n paar van hulle persoonlik dankie sê.

Hoe word die trofeë toegeken?

’n Onafhanklike paneel toets elke nominasie aan ses vereistes. Dit moet oor ’n spesifieke voorval gaan waarin die persoon of span werklike lewensgevaar getrotseer het, vrywillig opgetree het en verder as hul gewone pligte gegaan het om iemand anders se lewe of lewensbestaan te red. Die optrede moet onafhanklik bevestig kan word.

Beoordelaars verklaar enige moontlike belangebotsing. Indien ’n beoordelaar ’n verbintenis met die genomineerde of die nomineerder het, staan dié beoordelaar terug. Elke beoordelaar ken onafhanklik punte uit 100 toe. Gevaar tel 40 punte, die uitkoms 25, inisiatief 20 en persoonlike opoffering 15. Die hoogste gemiddelde tellings bepaal die ontvangers.

Almal trek saam, maar in twee verskillende rigtings! Toutrek was deel van die boeresport wat die Voortrekkers aangebied het.
Almal trek saam, maar in twee verskillende rigtings! Toutrek was deel van die boeresport wat die Voortrekkers aangebied het.
Ontvangers van die toekennings en hul verteenwoordigers saam met lede van Matlabas Custodians se bestuur. Voor, van links, is Tienie Bamberger, Pieter Lamprecht, Heinie Röhrbeck saam met sy dogter, en Hein Lottering. Agter, van links, is Vernette Duvenhage (namens Tiennie Duvenhage), Vernon Bennett
Ontvangers van die toekennings en hul verteenwoordigers saam met lede van Matlabas Custodians se bestuur. Voor, van links, is Tienie Bamberger, Pieter Lamprecht, Heinie Röhrbeck saam met sy dogter, en Hein Lottering. Agter, van links, is Vernette Duvenhage (namens Tiennie Duvenhage), Vernon Bennett
Die skaap braai stadig aan die spit vir die gaste by Matlabas Custodians se jaarafsluiting. Fotokrediet: Hartvol Fotografie
Die skaap braai stadig aan die spit vir die gaste by Matlabas Custodians se jaarafsluiting. Fotokrediet: Hartvol Fotografie
Met albei voete in die sak spring die jongspan na die wenstreep tydens die Voortrekkers se boeresport. Fotokrediet: Hartvol Fotografie
Met albei voete in die sak spring die jongspan na die wenstreep tydens die Voortrekkers se boeresport. Fotokrediet: Hartvol Fotografie

More local news