Headlines

Die gemeenskap groet Ds Petri van Rooyen

22 February 2019 · Platinum Bushvelder

Die gemeenskap groet Ds Petri van Rooyen

Northam/ Dwaalboom – Dominee Petri van Rooyen van die Nederduits Hervormde Kerk en sy gesin, verlaat die bosveld vir groener weivelde oorkant die waters.

Hulle verhuis na ‘n gemeente in Iowa in Amerika genaamd Zion Reformed Church.
Ds. Petri was beroep vanaf Rooihuiskraal in Centurion na die Northam gemeente in 2010.

“Toe ek in Northam kom, was die gemeente maar yl gesaai aangesien daar geen leraar was vir twee jaar nie. Aanvanklik wou ons nie bosveld toe kom nie. My beplanning het met God sin verskil.

In die agt jaar wat ek op Northam en Dwaalboom in die bediening was, het ek my grootste geloofsles geleer. My visie was anders en God het ons net aanhou seën met ʼn lojale gemeente wat so gegroei het, dat ons intussen ‘n nuwe kerk kon bou op die Brits-Northam pad wat in 2016 voltooi is.

God het my so gevorm en gebrei in hierdie jare, en natuurlik baie geseën ook! Hierdie gemeente is vandag ‘n self onderhoudende gemeente, wat kan terugploeg in die gemeenskap. Een van die baie goeie eienskappe van hierdie gemeenskap wat ek altyd sal onthou, is hoe hulle kan saamstaan in elke opsig en mekaar kan ondersteun in nood.

Opregte mense wat ook lekker saam kan kuier. Ek wil die gemeenskap nalaat met hierdie woorde... ‘n Oop hand kan ontvang en gee, ‘n toe hand kan nie – en hiermee bedoel ek nie geld nie. Ek praat van liefde, omgee, vergifnis, deernis en lankmoedigheid.

Dit was vir my ‘n voorreg om die pad wat God vir my uitgelê het, te kon loop - al moes Hy my soms saamsleep,” het Ds. Petri in ‘n onderhoud aan Platinum Bushvelder gesê.  


Ds. Petri het baie diep spore in die gemeenskap getrap. Hy sal voorwaar onthou word vir sy deursettingsvermoë in moeilike tye, sy liefde en omgee vir sy medemens. Northam en Dwaalboom gemeenskap wens vir Ds Petri en Janette, en hulle kinders Marli en Edrich, alle seën en voorspoed toe. Dit is net totsiens, maar beslis nie vaarwel nie!


Ds. Petri en sy gesin se afskeidsdiens sal op 3 Maart om 11:00 plaasvind by die kerk, waarna die gemeente lekker saam gaan kuier om totsiens te sê. 

Ds Petri van Rooyen en sy vrou Janette, en hulle kinders Marli (7) en Edrich (3).
Ds Petri van Rooyen