Headlines

TLU Suid-Afrika  groei saam

16 November 2018 · Platinum Bushvelder

TLU Suid-Afrika 
groei saam

Northam  – Lede van die Transvaal Landbou Unie (TLU) Suid-Afrika het op 13 November vergader by Mawala Lodge Boskamp te Northam.


Die vergadering is gelei deur die voorsitter van Thabazimbi distrik landbou bestuur, Pieter Welgemoed, en sake soos boere se veiligheid en ope kommunikasie tussen verskeie boereverenigings is met hoofbestuur bespreek.


Hoofbestuurder van TLU Suid-Afrika Bennie van Zyl het gesê dat hulle noue interaksie met Solidariteit en AfriForum het, rakende boere se veiligheid en omgewingsake.

Hy sê ook dat georganiseerde landbou die enigste manier is vir boere om winste te toon en dat Northam ‘n nasionale groeipunt is in Suid-Afrika (as gevolg van verskillende myne wat rondom Northam open).


Johan Young van Heritage Protection Group (HPG) en Community Policing Forum (CPF) Northam het met trots terugvoer gegee,  en gesê dat veiligheid in Northam oor die afgelope jaar verbeter het te danke aan die noue samewerking tussen die gemeenskap en plaaslike polisie. HPG werk hard om plaasaanvalle en veediefstal te bekamp.


President van TLU Suid-Afrika Louis Meintjes het gesê dat die landboubedryf weens droogte ‘n knou toegedien is. Wildbedryf het ook afgeneem weens die swak rand en herverkoop waarde. Lede moet onthou dat hulle geen vergoeding ontvang vir hulle werk nie, maar doen dit vir die liefde vir hulle medemens en omgewing.

Dit is baie belangrik om so veel as moontlik boere betrokke te maak by verskeie boereverenigings, om ope kommunikasie te kan behou in hulle verskeie gemeenskappe. TLU Suid-Afrika is afhanklik van hul lede om hulle voortbestaan te verseker en samewerking te kan versterk in Suid-Afrika.


Voorsitter van Northam boerevereniging Willem Erasmus het lede bedank vir hulle waardevolle bydra en het ‘n donasie aan HPG oorhandig om hulle werk makliker te maak, asook ‘n donasie aan  Louis Meintjes vir die opleiding van jong boere.

Van links: voorsitter van die Northam Boerevereniging Willem Erasmus oorhandig ‘n donasie aan die hoofbestuurder van TLU Suid-Afrika Bennie van Zyl en president van TLU Suid-Afrika Louis Meintjes.
Lede van verskeie boereverenigings wat hierdie belangrike vergadering bygewoon het.
Hoofbestuurder van TLU Suid Afrika Bennie van Zyl gesels oor die stand van georganiseerde landbou.