Die stywe lyne van die Hervormde Kerk Northam

Swartklip – Die Hervormde Kerk Northam se diaken fondsinsameling hengel kompetisie wat aangewend word vir barmhartigheid in die gemeente het op Saterdag 27 Oktober by die Swartklip Bierspruitdam plaasgevind.
Penne is vanaf 05:30 getrek met aankoms by die hek. Nie eers die hitte wat geheers het kon die geesdrif van die hengelaars stuit nie.
Díe keer is dinge bietjie anders gedoen; twee hengelaars per pen met net een hounet! Wenners is bepaal deur die swaarste sak per pen. Die lyne is vanaf 08:00 tot 16:00 natgemaak waarna die visse ingeweeg is.
Groot pryse was op die spel; die eerste prys was R5000, tweede prys R3500, derde prys R2500, vierde prys R1500 asook vyf gelukkige trekkings van R500 geskenkbewyse elk.
Die wenners van die kompetisie was as volg: eerste plek Theuns en Heinrich Goosen met ‘n 24,380kg vis; tweede plek Piet en PJ Bezuidenhout met 21,580kg; derde plek Leon Janse van Vuuren en Johan Pretorius met 18,220kg; en vierde plek Garrett en Natasha van der Linde met ‘n 14,040kg vis. Daar was 30 hengelaars wat ingeweeg het met ‘n totale gewig van 167,60kg.
Baie dankie aan die borge Grobbs Lodge en Fishing Pro shop Pretoria wat die geleentheid moontlik gemaak het. Dankie vir elke hengelaar en ondersteuner wat deelgeneem het asook dominee Petri van Rooyen.
