WEN GROOT BY MEDHOF APTEEK

Thabazimbi – Die wenner van Medhof Apteek se karkompetisie is op Woensdag, 17 September aangekondig. Danie Erasmus was die gelukkige wenner wat met een van 10 Fiat Pandas, geborg deur Alpha Pharm groep, weggery het.
Nie net was hy gelukkig genoeg om die voertuig te wen nie, maar kon hy ook ‘n liefdadigheidsorganisasie benoem wat ‘n R10,000 donasie ontvang het.
Abraham Kriel kinderhuis, te Modimolle is deur Danie benoem en gevolglik is die donasie aan hulle oorhandig.
Kotie Joubert, die senior kinderversorger by Abraham Kriel kinderhuis sê: “Hierdie bedrag beteken ongelooflik baie vir ons en die kinders.” Die donasie sal help om 170 kinders se magies vol te hou.
Danie van Nierkerk, bestuurder van Medhof Apteek, het ook gesê dat Abraham Kriel kinderhuis baie naby aan die gemeenskap van Thabazimbi se harte lê en dat hulle dankbaar is vir die geleentheid om ‘n bydrae te maak.
Dit is vir Medhof Apteek ‘n voorreg om terug te saai in die gemeenskap.
