Gebore met ‘n verfkwas in die hand

Thabazimbi – Welbekende Eugene Hurter het ‘n olieverf werkswinkel aangebied van 8 tot 10 Julie by die Castle Guest House te Thabazimbi.
“Die drie-dae werkswinkel was sowaar ‘n belewenis!” vertel Lynette Kemp van Memorylane, organiseerder van die bymekaarkoms, aan die Platinum Bushvelder.
Die groepie vrouens het heelwat geleer hoe om een te word met die verfkwas en vele meer oor olieverf skilderye.
Eugene het self ook aan van sy eie skilderye gewerk tydens die werkswinkel. “Om ‘n kunstenaar eerstehands te sien ‘n wonderwerk skep, was ‘n onvergeetlike ervaring,” sê Lynette.
Eugene was oorspronklik ‘n elektroniese ingenieur maar het in 1981 sy liefde vir olieverf voltyds aangepak. Hy het vinnig werk daarvan gemaak om kuns te bestudeer en sy eie galery te Bethlehem in die Vrystaat oop te maak.
Sy kunsuitstallings was uiters suksesvol en hy het verskeie uitverkopings gehad. Tóé het hy homself toegespits op waterverf en pastel. Sy werk het by plaaslike sowel as oorsese galerye opslae gemaak.
In 1985 het Eugene homself hervestig in Johannesburg en het kontrakwerk by onder andere Standard Bank, Anglo American Platinum, Barclays en Old Mutual gedoen. Eugene is in 1986 genooi na die ‘International Art Exo’ te Los Angeles. Hy was die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar teenwoordig.
In 1994 het Eugene besluit om ‘n eenvoudiger lewe na te streef en het vir nege jaar lank die land plat getoer in sy karavaan. In 2002 het hy besluit dat Suid Afrikaanse paaie nie meer veilig genoeg was vir sy bestaan nie, en hy keer toe terug na Lydenburg waar hy weer ‘n galery geopen het.
