Munisipale werker speel met vuur

Northam – Inwoners van Northam sit al vir maande lank in sak en as… letterlik! Vir die afgelope vyf maande ontvang die Platinum Bushvelder gerugte van onwettige asgate in Northam, en word so te sê elke week aan die brand gesteek... En wanneer die inwoners gaan kyk wie die brand stig, is die verdagte(s) skoonveld.
“Ek het ‘n eenjarige dogtertjie. My bure het ook kinders en ons bly teenaan die asgate. Party dae trek die rook van verbrande plastiek deur my huisie en gaan sit aan alles vas. Ons kinders hoes aanhoudend! Ons dokters rekeninge is nou al baie hoog. Ons kinders word net nie meer gesond nie,” vertel ‘n bekommerde Northam inwoner aan die Platinum Bushvelder koerant.
Tot vandeesweek... ‘n Flinkdinkende ooggetuie, David Gouveia, het ‘n video geneem van ‘n munisipale werker terwyl die werker vullis naby Caltex in Northam aan die brand steek en die vuur aanhits! Nadat hy die munisipale werker genader het daaroor, het die munisipale werker sy aksies probeer regverdig deur te sê “ek doen my werk”.
Oscar Selamolela, superintendent aan die munisipale vullis afdeling, het wel bevestig dat dit nie die man se werk is nie. “Hierdie aksie word glad nie goedgekeur nie. Dit is onwettig om vullis in ‘n residensiële area te brand. Verdere interne aksie sal teen hierdie persoon geneem word,” het Oscar aan die Platinum Bushvelder bevestig. Joshua Motsomane, woordvoerder van die Munisipaliteit, wil die Northam gemeenskap verseker dat díe nie die einde van hierdie verhaal is nie.
“Ons vra groot om verskoning vir die aksie van die munisipale werker wat die vullis gebrand het. Ons wil die gemeenskap verseker dat hierdie saak opgevolg gaan word. Ons is ook besig met ‘n baie groot skoonmaak veldtog in Northam. Dit sal binne twee weke afskop. Ons gaan die gemeenskap inlig oor brandstigting en ook oor die skoonmaak prosedures.”
Verder vertel Bertie Joubert, speaker van die munisipaliteit: “Die vullis stortingsterrein in Northam is net tydelik. Daar is ver gevorderde planne om die stortingsterrein te hervestig.” “Ons het ‘n plan, saam met belanghebbendes, om ‘n geïntegreerde afvalbestuursplan te implementeer. Ons wil beide Thabazimbi en Northam se stortingsterrein opgradeer. Ons behoort teen Junie/ Julie die dokumente te finaliseer. Dit lyk vir inwoners asof ons nie besig is om hierdie probleem te kontroleer nie, maar ons werk hard agter die skerms,” sê David Moabelo, waarnemende gemeenskapsdiens bestuurder.
Dit is nog nie bevestig of dieselfde persoon in die video ook verantwoordelik is vir die asgate wat elke week brand nie.
