Headlines

Om slange te vang!

13 April 2018 · Platinum Bushvelder

Om slange te vang!

Thabazimbi – As jy al gedink het die storie van ‘n slang wat bokke kan vang is net ‘n bangmaak storie, het ons slegte nuus vir jou… Op Donderdag, 5 April, is Petrus van Breda ontbied deur Schalk Engelbrecht om ‘n luislang te verwyder wat presies dít gedoen het.

Die slang het om omstreeks 09h00 die oggend een van Engelbrecht se klein bokkies gevang en heel ingesluk. Alhoewel hierdie tyd van die jaar as slangseisoen bekend staan, het Van Breda aan die Platinum Bushvelder vertel dat hierdie jaar tot dusver, die jaar vir die luislang is. “Een van ons meer bedrywige slang-vang jare en spesie gewys, is die luislang (python natalensis) sover die meeste gevang. 

“Die luislang is ‘n beskermde spesie en mag nie aangehou, vervoer, gedood of verkoop word sonder natuurbewaring permitte nie. Hulle kan diere van tot 30kg vang en in uitsonderlike gevalle volwasse rooibokke. Die slang kan gemiddeld drie meter tot ses meter lengtes bereik en tussen dertig en sewentig kilogram weeg,” vertel Van Breda. 


Ten spyte van die feit dat hulle byt nie giftig is nie, kan die rye vlymskerp tande steeds enorme skade aanrig. Luislange druk hul prooi dood en eet warmbloedige, gewerwelde diere. Dit meen dat ‘n luislang omtrent drie maande neem om sy prooi te verteer, en stoor dan die vette vir die winter. Slange is koudbloedig en kan slegs kos verteer indien die klimaat tussen 27-32 grade Celsius is. Indien dit kouer word, loop hulle die risiko dat die voedsel nie verteer nie, kan vrot, en kan selfs lei tot die dood van die slang. 


Met die totstandkoming van die eksotiese wildbedryf is die luislang ‘n bedreiging vir lammers en klein boksoorte asook rooibok spesies. Dus is die slang nie welkom op plase en in teelkampe nie.
Op versoek verwyder Van Breda luislange vir hervestiging.

Hy verwyder die slange as ‘n diens aan die gemeenskap en ook om sy passie vir natuurbewaring uit te leef. Hy doen dit ook gereeld op sy persoonlike onkostes wat hoë brandstof kostes insluit, omdat meeste plase ver vanaf die dorp geleë is. Soms maak mense vrywillig ‘n bydrae of donasie vir sy moeite.

In die foto: Petrus van Breda was op Donderdag, 5 April, ontbied om hierdie luislang te verwyder nadat die slang ‘n klein bokkie gevang en gevreet het.