Groot karpe en nóg groter glimlagte!

Janine “Koekies” Koekemoer het die eerste plek verower met ’n indrukwekkende karp van 8,94 kg.
Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Thabazimbi Hengelklub het Saterdag 15 Augustus 2026 ’n heerlike dagkompetisie by ’n plaasdam aangebied, waar goeie vangste, lekker kuier en ’n paar indrukwekkende persoonlike bestes die dag gekenmerk het.
Die kompetisie het op die grootste karp gefokus, en verskeie hengelaars het hul vorige persoonlike rekords verbeter. Die klub is veral trots op sy vroulike hengelaars wat nuwe persoonlike bestes kon aanteken.
Janine “Koekies” Koekemoer het die eerste plek met ’n karp van 8,94 kg verower. Kobus van Niekerk was kort op haar hakke met ’n indrukwekkende vangs van 8,91 kg, terwyl Rudolf du Plessis junior die derde plek met ’n karp van 7,74 kg ingeneem het.
Die klub bedank al die hengelaars vir hul goeie gees, harde werk en lekker samesyn – eienskappe wat Thabazimbi Hengelklub so besonders maak.
WIL JY SAAM HENGEL?
Vir meer inligting oor lidmaatskap, kontak voorsitter Rassie Erasmus by 072 456 8411 of sekretaresse Janine Koekemoer by 081 715 9835. Kom hengel saam, lag saam en probeer sommer jou eie persoonlike beste verbeter!


