HFM laat die paaltjies spat!

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) se krieketspanne het puik vertonings teen Hoërskool Ben Viljoen gelewer, met die o.15-span wat met 142 lopies gewen het en die eerstespan wat sy onoorwonne rekord behou het.
Die o.15-span het tuis eerste gekolf en 251 lopies aangeteken.
Cobus Vosloo het met ’n uitstekende 81 lopies uitgeblink, terwyl Dihan Lensley 38 en Julian Olivier 36 lopies bygedra het.
Ben Viljoen is daarna vir 109 lopies uitgeboul.
Markus van der Westhuizen het die voortou geneem met vyf paaltjies vir 23 lopies, terwyl Zachary Mabiza twee paaltjies vir 31 lopies geneem het.
HFM se eerstespan het weg teen Ben Viljoen gespeel en die tuisspan met ’n uitstekende spanpoging vir slegs 77 lopies uitgeboul.
Stefan Davel het ’n briljante drie paaltjies geneem sonder om ’n enkele lopie af te staan.
MJ Kloppers het drie paaltjies vir 15 lopies en HJ Koekemoer twee vir 32 geneem.
Met die kolf het Kevin Scheepers 33 lopies aangeteken, gevolg deur Steyn Snyman met 25 en Damien Greeff met 11.
HFM het gemaklik met nege paaltjies gewen en is ná vier wedstryde steeds onoorwonne.
