HFM-dogters kolf hul pad na ’n puik oorwinning

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) se eerste dogterskrieketspan het op Dinsdag 1 September 2026 ’n uitstekende wegoorwinning van vyf paaltjies teen Hoërskool Nylstroom behaal.
Nylstroom het eerste gekolf en is vir 111 lopies uitgeboul.
HFM se boulers het behoorlik die druk toegepas.
Micka Röhrs het drie paaltjies vir slegs 15 lopies geneem, terwyl Deanette Benade met drie paaltjies vir 20 lopies uitgeblink het.
Nicole Terblanche het twee paaltjies vir 26 lopies laat kantel.
HFM het daarna die teiken met selfvertroue aangepak en 114 lopies vir die verlies van vyf paaltjies aangeteken.
Mahlako Mamabolo was die uitblinker met ’n skitterende, onoorwonne 68 lopies.
Nicole Terblanche het 13 lopies bygedra, waarna Suzaan Bekker met ’n onoorwonne 10 lopies gehelp het om die oorwinning te verseël.
Baie geluk aan die HFM-dogters met dié puik spanpoging!
