Community

Dames staan saam vir Thabazimbi Sopkombuis

18 September 2026 · Platinum Bushvelder

Dames staan saam vir Thabazimbi Sopkombuis

Francois Boyce het die gehoor laat skater met sy unieke humor, maar ook hartsnare geroer met sy persoonlike getuienis.

Platinum Bushvelder koerant | Thabazimbi – Op Saterdag 12 September 2026 het die vroue van Thabazimbi saamgestaan vir ’n spesiale fondsinsamelingsoggend ten bate van die Thabazimbi Sopkombuis. Die geleentheid het 230 vroue bymekaargebring vir ’n oggend van lag, vermaak, emosie en gemeenskapsondersteuning.

Die tema van die oggend was “Around the World”, met elke tafel wat volgens ’n spesifieke land of tema versier is. Gaste het ook aangetrek om by hul tafels se temas te pas. Daar was pryse vir onder meer die beste tafel, beste geklede gas en die tafel met die meeste gees. Die Leeuwyfies (Red Hats) het behoorlik gewys dat ouderdom net ’n nommer is en dat ’n mens so jonk is soos wat jy voel.

Die oggend se vermaak is behartig deur Francois Boyce, beter bekend as Hoezit Samelewing, wat saam met vyf vroue op die verhoog gesorg het dat die maagspiere behoorlik geoefen word. Tussen die baie lag deur was daar ook oomblikke van emosie toe Boyce sy persoonlike lewensreis, die ervarings wat hom gevorm het en die groei van sy geloof met die vroue gedeel het.

Hoewel die oggend ’n geleentheid was om saam te kuier en lekker te lag, was die doel daarvan groter as net vermaak. Die fondse wat ingesamel is, gaan ten bate van die Thabazimbi Sopkombuis, ’n geregistreerde NPO (2024/031325/08) wat daagliks betrokke is by verskeie gemeenskapsprojekte.

Die sopkombuis pak een keer per maand ongeveer 125 kospakkies vir 125 gesinne, wat sowat 300 mense verteenwoordig. Die pakkies bevat produkte soos mieliemeel, pasta, rys, soppoeier, suiker, soja, toiletware, tee, kinderpap en vleis. Kospakkies en klere word ook versprei aan mense in Thabazimbi, Northam, Kromdraai en Rooiberg.

Die organisasie ondersteun verder SASSA-bejaardes met kospakkies, vervoer na die staatshospitaal vir medikasie en hulp met inkopies. Waar nodig word hulpmiddels soos rolstoele, krukke, bedrelings, en doeke voorsien. Die sopkombuis ondersteun ook skoolkinders en kinders in nood met onder meer skryfbehoeftes, skoolklere en ander benodigdhede.

Een van die sopkombuis se toekomstige planne is om die voormalige Shelter te benut om jong mense en kinders van ’n veilige en bekostigbare blyplek te voorsien, terwyl hulle ook geleer word om te begroot en uiteindelik selfstandig te funksioneer. Die perseel benodig egter nog verfwerk en algemene herstelwerk.

Die fondsinsamelingsoggend het gewys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan. Die 230 vroue wat die geleentheid ondersteun het, het nie net ’n oggend van herinneringe en lekker lag beleef nie, maar ook bygedra tot die voortgesette werk van ’n organisasie wat op gemeenskapsondersteuning staatmaak.

Die Sopkombuis is dankbaar teenoor die gemeenskap, boere en plaaslike besighede wat deur skenkings en ondersteuning help om hierdie projekte moontlik te maak.

Vir meer inligting of om die Sopkombuis te ondersteun:

Riana Bekker: 072 671 9710

Sanet Willemse: 083 620 1837

Anneli Connear: 064 305 0569

Saam vir ’n goeie doel! Van links is Rita Volschenk, Helen van Staden, Francois Boyce, Riana Bekker en Sanet Maasberg tydens die fondsinsamelingsoggend ten bate van die Thabazimbi Sopkombuis.
Saam vir ’n goeie doel! Van links is Rita Volschenk, Helen van Staden, Francois Boyce, Riana Bekker en Sanet Maasberg tydens die fondsinsamelingsoggend ten bate van die Thabazimbi Sopkombuis.