Headlines

Pasop vir ‘n SSSSSSLANGBYT! 

12 January 2018 · Platinum Bushvelder

Pasop vir ‘n SSSSSSLANGBYT! 

Thabazimbi – Dis weer slangbyt seisoen en die bosveld wemel met ‘n groot verskeidenheid giftige slange. 


Baie waaghalsige manne waag hul hand om ‘n slang te vang – maar indien jy nie opgelei is en weet hoe om sekere veiligheidsmaatreëls te volg nie, kontak liefs ‘n kenner op die gebied. 


Terwille van almal se behoud stel Peet van Breda die volgende voorsorgmaatreëls voor:

  • Slange kan bedags of snags hul opwagting op enige plek maak. 
  • Wees altyd bedag op jou omgewing, veral tussen rommel wat muise en paddas kan huisves.
  • Neem altyd ‘n flitslig saam as jy buite stap. Selfs met beligting is daar skaduwees waar sig swak is. As jy trappe op of af klim, kyk eers voor jy trap.
  • Slange is geruisloos en dring maklik huise binne. Hou deure en selfs vensters toe of installeer gaas.
  • Slange het ‘n geneigdheid om hitte op te soek. Kyk onder beddens – en selfs komberse en kussings, veral by lodges.
  • Indien jy op ‘n slang afkom, hou ‘n afstand van ten minste vier meter weg. 
  • Vermy die uitroei van slange; eerder om die slang dood te maak, kontak ‘n gesertifiseerde slang hanteerder. 
  • As ‘n persoon ‘n slangbyt opdoen, neem ‘n foto van die slang of vat die dooie slang saam hospitaal toe vir identifisering. Moet nie peuter aan die wond nie – kom net so gou moontlik by die hospitaal uit! 

“Om meer te weet van slang identifisering kan u gerus ‘n draai maak by die Thabazimbi Slangpark,” sê Van Breda in ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant. Hulle is Saterdae oop van 09h00-16h00, en Sondae van 12h00-15h00. Toegang beloop R60 per persoon en R30 vir kinders.

“Een interessante feit is dat die groen mamba en rinkhals nie natuurlik in ons gebied voorkom nie... kom kyk gerus na die verskille!” sê Van Breda. 


SLANG NOODNOMMERS: 
Petrus van Breda 079-897 5611
Peet van Breda 083-579 313
Henk Havenga 083-698 3401

Aitsa! Hier is Peet van Breda behendig besig met ‘n luislang.