Community

In Remembrance

31 July 2021 · Platinum Bushvelder

In Remembrance

Johan Young se afsterwe op Dinsdag 27 Julie het skokgolwe deur die Northam en omliggende areas gestuur.

Hy was ‘n pilaar in sy gemeenskap en die tipe man op wie jy kon staatmaak. ‘n Man wat altyd bereid was om uit te reik en te help.

Deur sy betrokkenheid en goedhartigheid het hy diep spore getrap in die harte van almal wat hom geken het. Die gemeenskap het ‘n legende verloor. Begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word. 

John Herman Hoffeldt (Herman) Pretorius is Woensdag 14 Julie op die ouderdom van 56 oorlede. Herman het ‘n besonderse deernis gehad vir sy familie en medemens. Hy het vir 35 jaar by Richard skag te Swartklip gewerk.

Hy was lief vir die natuur en het in sy vrye tyd graag in die veld gestap en vis gevang. Daar kan met reg gesê word dat hy voluit geleef het. Hy laat sy vrou Ansie en sy dogters Anel en Ilze agter. Geen roudiensreëlings is nog getref nie en alle besonderhede sal deurgegee word.

Elize Pelser, beter bekend as Moksie, is tragies op Maandag 26 Julie oorlede. 
Moksie se deelname en voltooiing van verskei Comrades Maratonne het gedien as bewys van haar uithouvermoë en determinasie.

Dit is hoe sy ook haar lewe aangepak het, ‘n merkwaardige vrou wat deur niks onder gekry is nie en struikelblokke kop omhoog aangepak het. Voorwaar ‘n inspirasie vir almal wat haar geken het. Sy was ook ‘n afrigter by Body 20.


Haar afsterwe laat ook ‘n groot leemte by Hoërskool Frikkie Meyer (HFM). As ouer en gemeenskapslid van HFM was sy een van hul lojaalste en mees getroue ondersteuners. Haar betrokkenheid by HFM het geen perke geken nie en was sy onder andere betrokke by sportafrigting, koshuisdiens, insamelingsprojekte en bemarking.

Sy het as motiveringspreker HFM se leerders tot groot hoogtes aangevuur. Haar betrokkenheid by HFM se eerste rugbyspan het ongetwyfeld bygedra tot die sukses die afgelope seisoene. HFM eer haar nagedagtenis en sal haar teenwoordigheid en spontane vriendelikheid by die skool en al sy aktiwiteite mis. 


Hulle bid vir die vertroosting van haar seun Tjaart, haar man, Sol, die res van die familie en vriende. HFM was vir haar ‘n spesiale skool, en Hoërskool Frikkie Meyer sal hierdie spesiale dinamiese dame nooit vergeet nie.


Die begrafnis sal op 30 Julie plaasvind en sal aanlyn uitgesaai word.