Mej en mnr HFM!

Thabazimbi – Die Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) het op Dinsdag, 1 Augustus hul eerste mejuffrou en meneer Frikkie Meyer kroningsgeleentheid aangebied.
Die kompetisie was die breinkind van Melanie Engelbrecht, ‘n graad 12 leerder wat die kompetisie in samewerking met mnr Tiaan Schmidt en me Chrisna Els geloods ten bate van die studente raad (SR)-fonds.
Dit was ‘n uiters suksesvolle aand met Melinda Bam, mej Suid-Afrika 2011, as seremoniemeester. Die deelnemers moes eerstens hulself in slenterdrag aan die mense voorstel en daarna in stylvolle aanddrag. Die program was verryk met die sang van Irene-Louise van Wyk en voor die finale rondte moes die deelnemers elk ‘n vraag beantwoord waarna die beoordelaars die finale punte kon verwerk.
Elke deelnemer het ook verskillende take aangepak om te kwalifiseer en is dan ook daarvolgens beoordeel. Een van die take was om ‘n dag met ‘n persoon bo 60 jaar te spandeer en een onder die ouderdom van 6 jaar en dan ‘n DIY (do-it-yourself) videogreep maak om te wys hoe hulle iets self gemaak het.
Die deelnemers het ook iets vir ons natuur gedoen en elkeen het R200 ontvang wat hulle dan vermeerder het na R1000 deur innoverende idees na vore te bring.
Victor Potgieter is aangewys as 2de prins, Fabio Vielmetti as 1ste prins en Christoff Peyper as meneer HFM 2017. Wat die dames betref, is Miné Lategan as 2de prinses aangewys, Soné Bisschoff die 1ste prinses, en Suné Robbertse as mejuffrou HFM 2017.
“Ons bedank ons beoordelaars, Rozelle Bester, Dane Venter, Gerrie Havenga, Dajana Rijetkovic en me Mari van Jaarsveld, ons kunstenaar Irene-Louise van Wyk, asook Melinda Bam.
Hiermee bedank ons ook al ons borge wat bygedra het tot die sukses van die aand; sonder hulle kon ons nie die aand aanbied nie,” aldus die organiseerders van die glansgeleentheid.
