Community

In remembrance  

11 June 2021 · Platinum Bushvelder

In remembrance

 

Yster en legende van die Thabazimbi gemeenskap Dirk van der Westhuizen, is op Donderdag 3 Junie oorlede. Waar begin mens om vir só ‘n man totsiens te sê? Hy was sy kleinkinders se held en vir sy kinders was hy ‘n rots en rolmodel wie hulle trots was om pa te noem. Vir sy vrou, Koekoes, was hy ongelooflik lief gewees en hul huwelik was ‘n voorbeeld vir ander. 


Dit was vir sy familie ‘n eer om hom in hulle lewens te kon hê, iemand na wie hulle kon opkyk, by leer, en lief voor kon wees. Heritage Protection Group (HPG) het die volgende boodskap gedeel: “Dirk was ‘n goedhartige familieman, vriend, en HPG familielid. Hy sal onthou word vir sy goedgesindheid, hulpvaardigheid, opgewondenheid, betrokkenheid, en ondersteuning. 


Die geselsies om die vuur en sy hartlike lag sal vir ewig in die lede van die HPG se harte weergalm. Hy het diep spore getrap en beslis sy stempel gelos – sy teenwoordigheid sal beslis gemis word. Mag God Sy hand van vertroosting oor sy familie hou.”

Martin Scheepers, gebore en getoë in Thabazimbi, was baie geliefd. Dié formidabele jong man is tragies op Saterdag 5 Junie oorlede – hy was maar 21 jaar oud. Hy was baie lief vir die bosveld en jag en het met trots sy profesional hunters kursus voltooi. 


Sy sprankelende geaardheid en behulpsaamheid is eienskappe waarvoor die wat hom geken het, hom vir altyd sal onthou. Hy het in so baie mense se harte ingekruip. Sy afskeidsdiens sal plaasvind op 12 Junie om 11uur vanuit die Hervormde Kerk, Dwaalboom. 


Dit sal ‘n buitelug diens wees en khaki’s is welkom.