Matlabas Plaaswag veg misdaad

Die skoendief
Vir die afgelope paar maande het daar ongeveer 60 pare velskoene uit ‘n skoenfabriek weggeraak. Na verdere ondersoek is ‘n patroon vasgestel en elektroniese toerusting was opgerig om die fabriek te monitor.
In die vroeë oggendure van Sondag 16 Mei, het die toerusting ‘n verdagte persoon binnein die fabriek opgetel. Die SAPD was ontbied en lede van die Matlabas Protospan was ontplooi. Die man was in die gebou betrap waar hy besig was om skoene uit te pak om weg te dra. Hy is deur die SAPD Bulgerivier gearresteer.
As die skote klap
Op 22 Mei was daar gerapporteer dat skote afgevuur was in die Steenbokpan area. Volgens die inligting wat ons ontvang het, was ‘n blou BMW betrokke. Matlabas plaaswaglede was gevra om uit te kyk vir die voertuig wat ons later opgespoor het in Lephalale. Die toneel is oorgegee aan die Suid Afrikaanse Polisie Dienste (SAPD) en hulle het beslag gelê op ‘n 9mm pistool en die verdagtes gearresteer.
Dwaalboom wild stroping insident
Die Protospan en boere was ontplooi na ‘n plaas in die Dwaalboom omgewing. Ons het spore gevolg en ‘n helikopter was ook ingebring in die soektog. Twee verdagtes, ‘n vark karkas, hamer (wapen), een jaghond, en ‘n voertuig was gevind.
Soos ‘n dief in die nag
‘n Huisbreker was gevang en gearresteer in die Thabazimbi/ Sentrum omgewing. Bosveld Misdaad Ondersoeke het saam met Matlabas plaaswag inligting bekom rakende die vlaag van inbrake en diefstalle in Thabazimbi.
Bosveld Misdaad Ondersoeke, Matlabas Plaaswag en Thabazimbi Speurdiens het die inligting opgevolg wat gelei het tot vyf arrestasies, waarvan twee plaasgevind het in die oggendure van 29 Mei in Brits deur PPS en SAPD. Die ander drie verdagtes was laat die Saterdagaand gearresteer in Thabazimbi. Beslag was gelê op drie voertuie wat gebruik was om die misdade te pleeg, asook ‘n selfoontoring battery, ses voertuig batterye, ‘n motorradio, asook selfone.
Die besigheidsdiewe
Bosveld Misdaad Ondersoeke, Matlabas Plaaswag en Thabazimbi Speurdiens het ondersoek ingestel rakende inbrake by besigheidspersele.
Inligting was bekom en ‘n verdagte was gearresteer op 1 Junie in Mamelodi.
Ons het beslag gelê op ses nuwe Stihl bossiekappers, vier ouer gebruikte bossiekappers, twee nuwe kettingsae en ‘n waterpomp masjien. Die bewysstukke was ingehandig by Thabazimbi SAPD.
Waar is my kar?
Gedurende Mei het ons nagenoeg tien gesteelde voertuie teruggevind in die Brits, Northam en Thabazimbi omgewing.
