Community

Nash se stert swaai weer

4 June 2021 · Platinum Bushvelder

Nash se stert swaai weer

Setaria – Zani Nel, ‘n gemeenskapslid in Setaria, het Nash voor haar oë sien grootword. Sy het haar dadelik ontferm oor Nash en het daagliks ‘n oog oor hom gehou, al was sy nie sy eienaar nie. 

“My ma het op Dinsdag 4 Mei vir my ‘n plasing op sosiale media van Nash gewys. Die plasing het gesê dat Nash voor die einde van die dag ‘n huis moes kry, anders sou hy van kant gemaak word,”

vertel Zani in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder. 


Sy verduidelik dat sy dadelik, nadat sy die plasing gesien het, na Nash gehaas het waar sy hom op ‘n bondel sien lê het. Nash was vol wonde. Hy was vasgemaak met ‘n ketting en het deurgans probeer loswikkel. Zani het Nash net daar en dan gevat en die soektog na ‘n nuwe huis vir Nash het dadelik begin. Aangesien sy reeds honde het, was haar huis onbeskikbaar.

Haar ma het ingestem om vir Nash die aand te huisves. Nash wou nie eet of drink nie en sy moes weer sy vertroue terugwen. Sy het Nash die volgende oggend na Kransberg Dierekliniek geneem.

“Met liefde het Nash ‘n ander persoonlikheid gekry, dit was wonderlik om vir Nash sy stertjie te sien swaai,” aldus Zani.


‘n Fondsinsameling is geloods om met Nash se veeartsonkostes te help en Nash het op 11 Mei na sy nuwe tuiste verhuis. “Nash is vandag ‘n liefdevolle hond en hy het ‘n baie goeie huis gekry.” Zani bedank die Kransberg Dierekliniek personeel vir hul liefde en hulp met Nash.

Nash en sy redder Zani Nel.
Nash is baie gelukkig by sy nuwe tuiste.