Community

AfriForum maak Limpopo se blou-en-groendruppeluitslae bekend

18 December 2020 · Platinum Bushvelder

AfriForum maak Limpopo se blou-en-groendruppeluitslae bekend

Limpopo – AfriForum het vanaf Augustus tot Oktober 2020 verskeie dorpe in Limpopo se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.


Dié projek was vanjaar belangriker as ooit weens die COVID-19 pandemie en navorsing wat toon dat dié virus in rioolstelsels opgespoor kan word, wat beteken dat ’n mens brandpunte kan identifiseer.
“Ons kon vasstel dat die volgende areas: Ellisras, Groblersdal, Haenertsburg, Leeupoort, Marble Hall, Naboomspruit, Nylstroom, Phalaborwa, Potgietersrus, Pietersburg, Roedtan, Rooiberg, Thabazimbi, Tzaneen en Warmbad se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo Magdel Strauss. 


Dié uitslae dui daarop dat al die dorpe van Limpopo se drinkwater wat getoets is, skoon is.
Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie naamlik Ellisras, Groblersdal, Marble Hall, Naboomspruit, Nylstroom en Potgietersrus. “Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Strauss.


“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Strauss af.


As die bewaarder van water kom die Departement van Water en Sanitasie nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. AfriForum versoek inwoners van Limpopo om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer. 


SMS “Skoon Water” na 45340 (R1) en steun hierdie aksie. 
AfriForum persverklaring uittreksels, 1 Desember 2020

AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo Magdel Strauss by die toetstasie.