KOM ONS BEVEILIG ONS MENSE

Northam – Met groot waardering aan Frik Kruger en die gemeenskapsleiers van Northam vir die afgelope naweek van Vrydag 2 Oktober tot Saterdag 3 Oktober se werksessie rakende gemeenskapsveiligheid. Dit was asemrowend om die entoesiasme en wisselwerking van kennis van die werkgroep te ervaar. Die verrigtinge het by die Nederduits-Hervormde kerk te Northam plaasgevind.
Baie dankie ook aan die span wat die gemeenskap tydens hierdie interessante beplanningsmoment bygestaan het, naamlik: Willoughby Brits, Koos Moorcroft, en Lukas Swart.
Frik Kruger en sy span is vasbeslote om ‘n gemeenskapsveiligheidseenheid vir Northam daar te stel wat tot die veiligheid van hulle gemeenskap sal bydra. Hulle voorsien dat hulle alles in hul vermoë sal doen om sinvol saam met die polisie, plaaslike landbou organisasies en relevante belangegroepe te werk.
Eenheid van poging, wettige optrede, integrasie van vermoëns, en samewerking met alle belangstellendes is wagwoorde, wat die gesamentlike stryd teen misdaad-terreur onderskraag. Dit is gebiedend noodsaaklik dat gemeenskappe in geloof moet saamwerk!
Die gemeenskap van Northam besef dat hulle verby die handhawing van gewone veiligheid in Suid-Afrika is… Ons het die drumpel van oorlewing lankal reeds betree!
Vrywillige stelsels vir gemeenskapsveiligheid soos dié van Northam floreer in die aanwesigheid van positiewe leierskap. Dit omsluit die toepassing van goeie leierskap, bestuur, administrasie, en operasionele bevel.
Daar sal grootliks op die vrywillige toetrede deur individue en keuse van leiers deur lede van gemeenskappe staat gemaak word. Dit is gewoonlik relatief maklik om te sien wie die natuurlike leiers is.
Individue wat die inisiatief neem om gemeenskapsveiligheidsprojekte te loods en of gekose leiers wat as vrywilligers na vore tree in gemeenskapsveiligheid verband, het die beste kans om sukses te behaal. Sodanige leiers gee die pas aan en motiveer die groep om as ‘n span saam te werk.
Die fokus rakende vrywillige organisasies is op deelnemende leierskap gerig, eerder as op reël georiënteerde prosesse en outoritêre optrede. Dit vereis besonderse leiers vernuf, mense insig en die vermoë om die inisiatief van ondergeskiktes te laat gedy. Ons mense kan!
Dankie aan almal wat onbaatsugtig in die voorste linie van ons land se stryd teen misdaad-terreur veg! Die nuutgestigte gemeenskapsveiligheidseenheid van Northam word seën op hulle projek toegewens!
Wildebeeslaagte en Northam gemeenskapsveiligheid groep persverklaring ekstrakte
