Super rugby

SUPER FANS – LOFTUS
Haaie vs Bulle
In die eerste rugga game in ses maande het die Bulle gelyk asof hulle agter die skerms bly speel het. Bra Jake se Bulle het die Haaie verniel en verdien om met 49-28 te wen. Hierdie Bul-span met net drie spelers wat in hulle laaste game vroeër vanjaar teen die Reds uitgedraf het is ‘n bul van ‘n ander kleur ou grote.
Met ‘n mengsel van jeug en ervare ''ou manne'' het White kenners se monde behoorlik gesnoer. Maar soos baas Naas in die verlede gesê het, die beker word nie in November gewen nie, nou in Januarie weens COVID!
Mens kan eintlik jammer voel vir duisend Blou Bul ondersteuners wat nie op Fort Loftus kon wees om hulle helde in lewende lywe te sien nie. Die Haaie se vinne en tanne lê nou nog op Loftus rond en is behoorlik geskok van die afskop af. Op een stadium het hulle 7-35 agtergeloop en spoke van ‘n rekord neerlaag is gesien.
Stormers vs Leeus
Die Stormers wat knielend begin het, het toe opgestaan en die Leeus 34-21 geklop. Die Leeus het gesukkel in die skrums en hulle verdediging het hulle ook soms in die steek gelaat. Maar om op te som ou grote, die Leeus het baie harde werk wat voorlê vir die Curriebeker seisoen wat eersdaags gaan afskop. Die Stormers gaan 'n moeilike teenstander wees in die reeks.
Bok Ruggas
Eerskomende naweek word daar ''proewe'' gehou in die Kaap. Rassie en kie het besluit dat sowat negentig spelers in aksie sal wees in twee spanne, die Goud span en die Groen span. Baie Bokke speel tans in Europa ruggas en sal uit die aard van die saak nie deel wees nie van die grappie nie.
Tot op datum is daar ook nog nie sekerheid of die Bokke wel in die Rugby Kampioenskappe gaan deelneem nie.
Nag ou grote…
