Community

AfriForum-plaaswag en polisie hou suksesvolle padblokkade

28 August 2020 · Platinum Bushvelder

AfriForum-plaaswag en polisie hou suksesvolle padblokkade

Thabazimbi – AfriForum se Matlabas-suid-plaaswag, deel van AfriForum se Thabazimbi-tak, het saam met die Suid-Afrikaanse Polisie Dienste (SAPD) ‘n padblokkade gehou waartydens drie arrestasies uitgevoer is.

Die Hoopdal-polisiestasie hou gereeld padblokkades saam met AfriForum se Matlabas-suid-plaaswag en vyf plaaswaglede het ses polisiebeamptes op 15 Augustus bygestaan tydens ‘n padblokkade op die Thabazimbi-Ellisras-pad. Altesaam 44 voertuie is afgetrek, twee boetes is uitgereik terwyl drie onwettige immigrante in hegtenis geneem is.

Gustav Opperman van die plaaswag bedank graag die SAPD vir die professionele wyse waarop hulle die padblokkade hanteer het en met die gemeenskap saamgewerk het. “Dit is vir ons ‘n voorreg om saam met die SAPD te werk om ons gebied te beveilig.”

“Hierdie is ‘n toonbeeld van puik samewerking tussen die SAPD en gemeenskappe. Nie net beveilig hierdie aksie die Matlabas-omgewing nie, dit beveilig die hele land deur onwettige immigrante toegang te ontsê. Hierdie samewerking en voorkomende polisiëring is die fondasie van enige gemeenskapveiligheidsinisiatief. So maak ‘n handjievol mense ‘n reuse verskil,” sê AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo, Andries Opperman.

Raak by AfriForum in Limpopo betrokke: Laai die Telegram app af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot). Of SMS “noordstreek” na 45350 (R1).

AfriForum persverklaring