Caroline herstel na slangbyt

Northam – Die 15-jarige Caroline Nel het op Woensdag 3 Junie ‘n baie traumatiese ervaring ervaar na ‘n slang haar op haar oupa se plaas, De Put buite Northam, bygedam het.
“Ek was op pad om die hek te gaan oopmaak toe ek ‘n steek voel op my linkervoet. My eerste instink was dit ‘n doring was wat my gesteek het.” Caroline het afgekyk om te sien wat het haar gesteek toe sy die slang sien. “Ek het begin gil! My ouma het uitgehardloop gekom en nog harder geskree,” aldus Caroline in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder.
Haar oupa wat ‘n hele ent verder weg besig was by die beeste het net gehoor, slang byt, die sleepwa afgehak en gejaag.
Daar is bevestig dat dit ‘n pofadder was wat haar gepik het. Die Nel-gesin het dadelik in die bakkie gespring en met Caroline na dokter PM de Kock Vennootskap t/a Kruismed gehaas waarna sy by Mediclinic opgeneem is.
Die familie het almal so vinnig as moontlik reageer. “In daardie oomblik het ons gespring om haar so gou as moontlik by ‘n dokter te kry. Ons het net gebid – want daar was nie tyd vir negatiewe ‘wat as’ gedagtes nie,” het haar oupa Hennie Nel gesê.
Volgens die African Snakebite Institute is pofaddergif sitotoksiese, wat ernstige pyn, swelling, blase en in baie gevalle ernstige weefselskade veroorsaak.
Caroline was in Mediclinic se hoësorgeenheid vir drie dae, maar het genadiglik heeltemal herstel sonder dat dit nodig was vir ‘n veloorplanting en sy sterk tans by die huis aan. Die familie se vinnige reaksie het heelwaarskynlik bygedra tot die feit dat die slangbyt geen ernstige nagevolge gehad het nie.
“My voet is steeds baie geswel en ek kan nie ‘n skoen aantrek nie, maar dit pla my nie baie nie. As iemand wat op die plaas grootword, is ek eintlik maar ‘n kaalvoet meisiekind,” het Caroline laggend gesê.
Die Nel-gesin wil graag baie dankie sê aan dokter Pieter de Kok en dokter Anel Groenwald vir al die moeite wat hulle gedoen het om Caroline kalm te hou en te behandel met soveel sorg en toewyding. “Baie dankie ook aan elke vriend en familielid vir hulle bemoedigende boodskappe en gebede. Maar bo als, baie dankie aan God dat hy Caroline gedra het en herstel het. Dit was weereens net vir my ‘n bewys dat enige iets moontlik is deur geloof.”
