Schools & sport

Super Rugby 2020 Week 5

6 March 2020 · Platinum Bushvelder

Super Rugby 2020 Week 5

Highlanders vs Rebels
Die Highlanders verloor verrassend op hulle tuisveld in Dunedin. Die Aussies wen hierdie game welverdiend 28-22 ou grote. Dit is asof 2020 tot dusver nie ‘n algehele Kiwi oorheersing is nie.
Die Highlanders reis na SA om teen die Bulle te gaan uitdraf op Loftus. Die Rebels gaan in Melbourne teen die Leeus uitdraf.


Waratahs vs Leeus
Die Leeus is net ‘n skadu van die 2019 span maat. Die Jo’burgers verloor teen ‘n gemiddelde Waratah span wat spog met drie agtereenvolgende neerlae 29-17. 
Die Leeus speel volgende teen die Rebels in Melbourne en sal wraggies waar so vinnig die sirkus arena moet verlaat en terugkeer na planeet rugby.
Die Waratahs speel volgende teen die Chiefs in Wollongong.


Hurricanes vs Sunwolwes
Die Japanese Wolwe word deur ‘n orkaan getref in Napier. Die Canes daag op met oorgawe en verniel die Wolwe met ‘n reuse telling van 62-15. Die hoogtepunt van hierdie game was die puik spel van die gewese Haai vleuel, Kobus van Wyk, wat beloon word met drie skitter drieë! Met hierdie oorwinning het die Canes ook nou tweede in die Nieu-Seeland konferensie ingeskuif.
Die Sunwolwes se lyding gaan Sondag voortduur want hulle kom teen die Brumbies in Osaka te staan, hopelik sal hulle beter vertoon voor hulle tuisskare.
Die Canes gaan in ‘n tipiese Kiwi derby betrokke wees en draf op teen die Blues in Wellington.

Reds vs Haaie
Die Haaie behaal welverdiend hulle derde oorwinning op hulle toer en klop die Reds in Brisbane 33-23. Die telling vlei dalk die Reds want die Haaie kon veel verder gewen as dit nie vir die ref was wat ‘n nagmerrie game gehad het nie. 
Vir die Haaie het hulle agtsteman, Sikhumbuzo Notshe, geskitter ou grote. Die gewese WP speler is tans die X Faktor in die Haaie se planne.
Die Haaie speel volgende teen die Jaguares in Durban met die Reds wat Christchurch toe moet reis om teen die Crusaders te gaan uitdraf.


Stormers vs Blues
O aarde Gatiepie, daar is mos nou groot molato in die Kaap duisende mense sit tans sonder behuising. Duisende Stormer supporters het met ‘n ‘big bang’ teruggekom aarde toe!
Die Kapenaars verloor vir die eerste keer in 2020 en moes die aftog blaas met 33-14. Nog hartseer daarby is dat hulle ster speler, Pieter-Steph du Toit beseer is en vir ten minste twee maande buite aksie gaan wees.
Die Stormers het gelukkig ‘n loslootjie in Week ses. Die Blues reis terug na Nieu-Seeland om teen die Canes in Wellington te gaan uitdraf.

Bulle vs Jaguares
In Pretoria heers daar so ‘n ongemaklike stilte, amper soos die broer in die tronk wat jy nou nie juis oor praat nie ou grote. Ongelukkig in enige kompetisie moet daar ‘n laaste plek op ‘n puntetabel wees. Maar as eens ‘n trotse unie slegs een bonus punt kon verdien in vier games met vier neerlae is daar groot aksie maat. 
Die Bulle verloor 39-24 teen die Argentyne, Die Jaguares is definitief ‘n span om met mee rekening te hou in 2020.
Die Jaguares reis Durban toe om volgende teen die Haaie te speel. Die Bulle gaan tuis teen die Highlanders te staan kom.


Dan moet die Blitsbokke eretoekennings kry vir hulle puik prestasie met die laaste HBSC Sewes Toernooi in Las Vegas. Die Blitse veg terug in die finaal teen Fidji en loop 0-19 agter om uiteindelik 29-24 as Vegas kampioene gekroon te word. Skitterend, manjifiek!
Nag ou grote...