Super Rugby 2020 Week 4

Crusaders vs Highlanders
Die Saders was net eenvoudig te goed op die dag en klop die Highlanders 33-13 in Christchurch. Die besoekers is deur dodelike verdediging telkemale gestuit en die Saders het uit omgekeerde besit floreer.
Die Saders het in week vyf ‘n loslootjie. Die Highlanders speel teen die rebels in Dunedin.
Rebels vs Haaie
In Melbourne behaal die Haaie hulle tweede oorwinning op hulle toer na doer onder en klop die Rebels 36-24. André Esterhuizen, wat terloops ‘n puik game gehad het, het ‘n dag wat hy lank sal onthou. Dit was die fris senter se eerste game as cappie en het van voor af gelei ou grote. Die Haaie sal egter baie hard moet werk aan hulle dissipline en moes op ‘n stadium met 13 manne speel na twee geelkaarte. Teen die groot honde gaan dit hulle in die stertvin byt maat.
Die Haaie speel volgende teen die Reds in Brisbane. Die Rebels reis Dunedin toe om teen die Highlanders te gaan uitdraf.
Chiefs vs Brumbies
Die Brumbies sorg vir die eerste groot skok van die seisoen en klop die onoorwonne Chiefs op hulle tuisveld in Hamilton. Die Chiefs was van die begin van die game onder druk en loop met rustyd alreeds 0-19 agter. Die Brumbies het die tweede helfde goed verdedig en wen 26-12.
Beide die Chiefs en die Brumbies het in week vyf ‘n loslootjie.
Reds vs Sunwolwes
Die Reds speel kookwater ruggas en hardloop die Japanese Wolwe van hulle pote af en wen 64-5. Met hierdie oorwinning is die Reds nou tweede in die Aussie konferensie.
Die Reds speel volgende teen die Haaie in Brisbane met die Wolwe wat teen die Brumbies in Osaka hulle naam in ere sal wil herstel maar volgens spekulasie sal die wedstryd geskuif word na ‘n neutrale staduim buite Japan weens bekomernise van die Corona virus.
Stormers vs Jaguares
In Kaapstad wen die Stormers 17-7 teen die Jaguares. Belaglik is die feit dat dit lyk of die Kapenaars wil kyk hoe min punte teen hulle op Nuweland opgesit word en vergeet in die proses om aanvallende ruggas te speel. Coach John Dobson is egter tevrede want sy span is nou die enigste onoorwonne span tot dusver.
Die Stormers speel volgende tuis teen die Blues met die Argentyne wat Pretoria toe reis om teen die Bulle te loop uitdraf.
Bulle vs Blues
Wyle Buurman van Zyl slaap definitief nie meer deur nie ou grote. Die Bulle behaal ‘n voltal, vier uit vier, en verloor 23-21 teen die Blues op Loftus. Die handjievol Bul ondersteuners moes in gietende reën toekyk hoe hulle helde aan die verdrink is.
Wat Pote en Kie na die game toe gaan bring teen die Jaguares sal net hulle weet. Hulle het dalk planne wat ons nie van weet nie.
Die Blues reis Kaapstad toe om teen die onoorwonne Stormers te gaan uitdraf.
Nag ou grote.
