Onder die bosveld son kom 2019 tot ‘n einde...

Ons Bosveldmense het baie leed en betekenisvolle hoogtepunte ervaar die jaar. Elke oomblik en herinnering wat gevorm is, is sandkorreltjies wat ons lewens vorentoe sement.
Met die hemel as ons dak en die doringbome wat saam met ons groei, skuil ons vir veiligheid teen die donker bymekaar. Ongeag watter tipe familie, tradisioneel of nie – ons almal het ‘n plek waar ons behoort. Ons gemeenskap se gesinne, sosiale groepe en so meer herinner ons aan die feit – ons almal hoort sáám.
Vir Platinum Bushvelder koerant en personeel was dit ‘n ongelooflike jaar saam met ons mense. Dit is vir ons ‘n ongelooflike eer om saam met die gemeenskap die pad vorentoe te kan stap.
In politieke arenas is stemme dik gemaak en menige bloeddruk is opgejaag. Vir ander het die legkaarte presies reg geval. Die myne in ons area het ook baie vir ons beteken deur die jaar.
Op sosio-ekonomiese vlak sien ons elke dag hoe mense swoeg en sweet voor sonsopkoms en met die grootste sorg die kleingoed in die kooi bêre wanneer die sterre uitkom. Van ons kinders is vanjaar klaar met skool en die ‘grootmens’ wêreld is hier op hul voorstoep.
Maar wanneer die donker dreun moet ons dig bymekaar staan.
Ons wêreld is mooi – maar daar skuil diewe en bose in die nag. Ons moet mekaar beveilig. Niemand wil ‘n misdaadsyfer wees nie. Wees asseblief altyd ingestel op jou en jou familie se veiligheid. Doen alles in jou vermoë om jul veiligheid op te skerp en hou veiligheidsnommers altyd byderhand.
Hierdie jaar is nuwe bande gesmee, nuwe vriendskappe ontwikkel, nuwe liefdes gevorm, kindertjies gebore en ons het totsiens gesê aan geliefdes.
Ons is ewig dankbaar aan ons Heiligmaker, ons Here, wat vreugde in ons lewens bring. Dankie Liewe Heer vir U liefde, vir elke dag wat U ons spaar, dankie vir U genade, vertroosting, begrip, ondersteuning en vergifnis. Dankie dat U, U enigste seun vir ons opgeoffer het om vir ons sondes te sterf.
Ook wil ook ons kliënte, lesers and ondersteuners bedank vir julle ondersteuning.
Julle het ons jaar ryk ingekleur en ons is dankbaar vir julle opoffering, tyd en omgee.
Ons sien uit om weer ‘n warm koppie boeretroos in die Nuwe Jaar saam met julle te nuttig, met ons eerste uitgawe van 13 Januarie 2020.
Die Platinum Bushvelder span
