VAN TOEKA TOT NOU Laerskool Platina

Swartklip/ Northam – In 1948 moes 47 gesinne noodgedwonge hul skoolgaande kinders met die departementele skoolbus na Northam stuur, omrede daar geen skool op Swartklip was nie.
Die Departement van Onderwys het egter later die busdiens gestop, vermoedelik weens vervoerkostes. Die enigste uitweg was om leerders in die Northam koshuis in te skryf.
Van dié versoek wou die ouers niks weet nie en so het tant Marthie Behrens begin om op Swartklip vir die Standerd 6 leerders skoolgegee terwyl mevrou JH van der Hoff vir die res van die laerskool grade klas gegee het.
Die kinders het klas gegaan in die destydse Swartklip kerkkwartiere en spreekkamer. Die skool was toe die Union Platinum Mine (UPM) Skool genoem.
Op 15 April 1952 kom Swartklip Laerskool tot stand. Daar was 59 leerders en Mev JH van der Hoff word aangestel as die eerste departementele waarnemende hoof van die skool. In Augustus daardie jaar het die skool reeds 77 leerders.
In Januarie 1953 word meneer JP le Roux aangestel as die eerste permanente hoof. Die skool was op die gronde reg langs die huidige skoolgronde en moes tot in 1965 ‘n gebou deel met ‘n haarkapper en biblioteek.
In 1965 begin hulle die onbegonne taak om ‘n skool te bou uit die oorblyfsels van ‘n gesloopte skool uit Rustenburg. Baie van dié materiaal vorm vandag nog deel van die skool.
Op 23 Julie 1974 verander die skool se naam na Laerskool Platina en daar word met parallel-medium klasse begin. Daar word ook nuwe klaskamers aangebou en die skool kry ‘n nuwe bus om die kinders mee te vervoer. Deur die jare het die skool van krag tot krag gegroei. Hulle spog tans met 19 departementele poste, 35 beheerliggaamspersoneel en 11 beheerliggaamslede. Die skool het gegroei tot 767 leerders en 43 klasse met ‘n media sentrum, personeelkamer en saal. Daar is ook al twee volledige rugbyvelde, netbalbane, ‘n lapa en ‘n sekuriteitskamerastelsel wat klank kan opneem.
Beheerliggaam voorsitter Susan Holloway was self ‘n leerling van Swartklip Laerskool. In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder vertel Susan: “Ek is baie trots op die skool en hoe dit gegroei het deur die jare. Met ‘n dankbare hart en alle eer aan God, glo ek sal ons nog baie groei en leerders die beste akademiese opvoeding bied.”
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, prestasies, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers.
