THABA TEEN MISHANDELING

Thabazimbi – Die gemeenskap van Thabazimbi het op Saterdag 16 November by die Pondok bymekaargekom en saamgestap teen mishandeling.
Sowat 40 deelnemers het in hul tekkies opgedaag om hul stemme dik te maak teen mishandeling van vrouens, kinders en bejaardes. Mishandeling is die sosiale kanker van ons tyd.
Geweld of mishandeling word gedefinieer as die onregmatige gebruik van mag of die uitoefen van fisiese krag wat tot beserings of verwoesting lei. Dit kan enige iets wees van boelies by die skool tot mishandeling of kriminele geweld. Die 'weerlose' word geteiken – en daarom het die groep bymekaargekom om “NEE” te sê.
Die geleentheid is deur die Suid Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) gereël ter fondsinsameling van hul ‘I Care’ projek.
In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het organiseerder Magda de Klerk gesê: “Baie dankie vir almal se ondersteuning en betrokkenheid. Dit was voorwaar ‘n pretloop. Ons maak beslis volgende jaar weer so.”
