Om in die jagter se skoene te stap

Thabazimbi – Thabazimbi is bekend vir sy uitsonderlike wildslewe en wildsplase. Dit maak Thabazimbi gesog onder jagters en mense van die ‘voorwêreld’ (stadsmense) af.
Die Thabazimbi Boogklub spog met kranige jagters wat hul vernuf soms op ander maniere toets. Skuts van heinde en verre (Botswana, Tzaneen, Rustenburg en Gauteng) het kom deelneem aan die Nasionale 3-D Boogskiet kompetisie gehou op 7-8 Oktober. As ‘n 3-D dier kan stilstaan en jy kan nog ‘n hartskoot waag, dan mag jy maar skiet.
Thabazimbi boogklub is egter berug vir die uitsonderlike kompetisies wat hulle aanbied. In die verlede is ‘n bobbejaan in die boom (wat met ‘n katrol stelsel afgehys word om jou pyle te kry) die hoogtepunt van ‘n skietbaan. Sponsrubber diere is staangemaak in skadukolle, op rotse en tussen bome.
Hierdie jaar se baan is in en om die berg gebou op die Koos Cronje skietbaan van die Suid Afrikaanse Jagters en Wildsbewarings Vereniging (SAJWV). Diere teikens, gemaak uit sponsrubber, staan lewensgroot op verskeie afstande.
Takke in die pad, skaduwee en rotse bemoeilik die skiet proses. Pierre van der Walt (Thabazimbi boogklub) het die baanuitleg behartig. Ure se bouwerk en beplanning maak dit ‘n uitsonderlike baan. Verskeie skuts is geflous deur die afstande en plasing van die teikens.
Tydens die 3-D kompetisie het die manne en manninne in twee kategorieë deelneem: mét of sonder ‘n elektroniese afstandsmeter (range finder). Sonder die afstandsmeter skat die skut dan die afstand na die teiken, terwyl dié wat nie wil skat nie, dit sekuur kan meet. As jou oog in is en jy tref die dier in die hart, behaal jy ‘n maksimum van 10 punte. Vir ‘n longskoot kry jy 8 punte en vir ‘n lyfskoot (kwes) 5 punte. Horings of voetstukke van die teiken, en ‘n mis, tel 0 punte. Die afstand skat is bedrieglik met rotse en bome wat uitsig beperk en hellings van tot 50 grade (opwaarts en afwaarts). Vra maar menige skuts wat pyle weggeskiet het of gebreek het. Om die ‘recurve’, of so te sê die tradisionele boogskuts te akkommodeer, het die klub ‘butts’ agter elke 3-D teiken geplaas dat die pyle nie te vêr verdwaal nie.
In die berg moes manne mooi staan om nie balans te verloor nie! Klippe en boomtakke vergemaklik nie jou taak om ‘n hart te tref nie... Die uitsig oor Thabazimbi is pragtig en met ‘n sagte paar reëndruppels vir die dor aarde – het die skuts nie omgegee nie! Sambrele en swartsakke is deel van die ervare skuts se monderings.
Al die rubber diere is nog staande. Die harte raakskiet (of misskiet) maak dit ‘n grootse ervaring: geen bloed het gevloei nie.
Dankie aan al die manne en vroue wat kom deelneem het! Elke skut se hart is in die natuur: Los net jou voetspore. Die 3-D kompetisie herleef... vir twee dae kon jy in die jagter se skoene stap!
