Thabazimbi Apiesdoring Karnaval ‘n reuse sukses!

Thabazimbi – Hervormers sê dankie! Die organiseerders van die jaarlikse Thabazimbi Apiesdoring Karnaval het in ‘n skrywe die Platinum Bushvelder koerant en die gemeenskap van Thabazimbi bedank vir hul ondersteuning verlede Saterdag.
Van heinde en verre het besoekers gekom! Daar was selfs ‘n groep besoekers wat almal van Kaapstad afkomstig was. ‘n Invlieg-na-Thabazimbi was goed ondersteun en verskeie vliegtuie was plaaslik en by Northam te sien – spesiaal vir die karnaval. Ongeveer 6,000 besoekers het die karnaval besoek.
Van half ses die oggend af, nog voor die son begin water trek het, het die eerste vleiskopers in ‘n tou gestaan. Gelukkig was ‘n koppie warm koffie en pannekoeke bedien om die wag te verlig.
Tydens díe pragtige sonskyn-dag het Steve Hofmeyr se optrede duisende besoekers gelok. Wat ‘n mooi gesig was dit nie om die skare onder die Kollos Apiesdoringbome te sien ontspan nie!
Die tema “van toeka tot nou” was orals op die terrein sigbaar en die namaak van ‘n Lister engine het vir groot vermaak gesorg.
Steve Hofmeyr was op systukke en die bale en stoele was gepak met ‘n see van gesigte toe hy opgetree het. Die organiseerders was beïndruk toe hy rustig na die karnaval ook die Superrugby eindstryd gekyk het op die grootskerm.
Die veiling het ook weer vir vermaak gesorg! ‘n Besliste eerste was vier rug-biltonge van ‘n Koningswildebees wat opgeveil is en verkoop is vir R1700-00. Die volle sirkel van rolspelers was by die veiling teenwoordig: die teler van die wildebees, die jagter, die slagter, die persoon wat die speserye voorsien het en die koper van die biltong.
Daar is soos altyd groot ge-offer. Meer as 1600kg droë biltong is verkoop en meer as 1400 bottels konfyt was te koop by die plaasstal.
Izak Joubert, voorsitter van die karnaval, het veral waardering uitgespreek vir verskeie besighede – van klein tot groot – wat almal bydraes gelewer het om die karnaval ‘n sukses te maak. Die organiseerders wil egter alle eer gee aan die Hoof en Here van die kerk: Jesus Christus.
