Duur bul gestroop

Northam – Jaco Schoeman van die plaas Leeukoppies het op Donderdag 21 Oktober op die karkas van sy duur Simmentaler stoetbul afgekom. Die bul is deur die nek geskiet en van die vleis is gestroop.
Jaco, sy broer Stephan Schoeman en Stephan se vrou, Marietjie, boer saam op aangrensende plase; Leeukoppies en Grootkuil.
Die R50,000 bul is vermoedelik die vorige aand geskiet. Die misdadigers het by die hek ingekom en die wildwerende heining geknip om by die bul uit te kom. Net die vel, kop en binnegoed is op die toneel gevind.
‘n Ruk terug - op dieselfde plaas - is ‘n koei op dieselfde wyse geskiet en gestroop.
Marietjie sê daar word ook gereeld beeste gesteel.
Wilddiefstal is ‘n groot probleem. Gedurende volmaannagte word die wild met honde gejag.
Die wild is al so uitgedun, dat hulle die afgelope twee jaar nie jagters kon akkommodeer nie, want daar is nie genoeg wild oor nie.
