WIELE EN WATER!

Thabazimbi – Die leerders van Laerskool Thabazimbi het Vrydag 18 Oktober hul jaarlikse kaskardag terdeë geniet. Die wiele het gerol, kinders het gelag, en die water het gespat!
Die geleentheid is aangebied om fondse in te samel sodat die skoolfonds so bekostigbaar as moontlik gehou kan word in 2020.
Groot opgewondenheid het geheers onder die jongspan en hul kon nie wag om weg te spring nie. Na die warm dag en lekker rondhardloop het almal waterkaskenades gehou en spat-spat afgekoel.
Die Graad sewes het voorwaar uitgehaal en gewys tydens hul jaarlikse vertoning waar hul gedans het op die maat van hul eie musiek.
Baie dankie aan elke ouer wat bygedra het om van die dag ‘n reuse sukses te maak. Daar was nie een gesiggie sonder ‘n glimlag nie!
