Headlines

Droogte geteisterde Karoo...

18 October 2019 · Platinum Bushvelder

Droogte
geteisterde Karoo...

Thabazimbi – “Maak jou oë toe. Dink jouself in; jy is ‘n Karoo boervrou. Jy staan in die kombuis en kyk uit oor die plaaswerf. Daar waar eens ‘n trekker en implemente gestaan het, is als nou leeg. 


Als is verkoop. Jy soek ietsie groen, net ‘n kolletjie – maar sien niks. Die twee enorme ou bloekombome is dood. In die verte sien jy die rivierbed en die lande vir lusern, droog en vaal. 
Die rivier het vyf jaar laas geloop. Jy voel hoe die trane wil begin opdam en kyk vinnig weg. 
Selfs trane word hier gespaar. 


Jou oog vang die ketel… so lus vir ‘n lekker cappuccino en om ‘n tydskrif op die bank te lees. Ai... hoekom het jy dit nie daardie dae méér waardeer nie? 


Maar nee, jy kan nie nou koffie drink nie. Die koffieblik is amper leeg. Jy spaar dit vir jou man.” Só skryf ‘n boervrou uit die Karoo.


Na aanleiding van die boodskap uit die Karoo het dit op ‘n hele paar mense se harte kom rus om die boervroue wat deur droogte geteisterde areas geraak word, te ondersteun.


Indien jy geroepe voel, pak ‘n boksie vir ‘n Karoo-vrou. Sit enige iets daarin om haar te bemoedig... ‘n lekker pakkie koffie, lyfroom – enige nie-bederfbare produkte. Selfs ‘n briefie as jy wil. Hierdie projek is suiwer om hoop te gee waar mense dalk moedeloos en moeg voel.


Jy kan die items in enige stewige boks pak, toedraai, duidelik merk en voor Saterdag 2 November by die NG Kerk Thabazimbi of The Gunmen se kantoor by die vliegveld in Thabazimbi gaan afgee.
Indien jy dit nie kan aflewer nie, skakel gerus vir Linda Richard by 082 466 6281.


Vir meer inligting kontak 
Linda of Nicole Murray 
op 082 751 2302 
of Ertjies de Witt op 072 040 5111.