Community

Northam groet Bert Kriel

27 September 2019 · Platinum Bushvelder

Northam groet
Bert Kriel

Northam – Dit is met leedwese dat die gemeenskap van Northam verneem van die skielike afsterwe van Bert Kriel op Saterdag, 21 September.


Bert en sy verloofde was in Langebaan in die Wes-Kaap op ‘n kort vakansie toe hy oorlede is. Hulle was van plan om in Oktober te trou.


Hy was nie nét ‘n gesiene sakeman in die Northam omgewing nie, maar ‘n familie man, vriend en ‘n steunpilaar vir almal wat hom geken het. Bert het hom die afgelope dertig jaar in Northam gevestig waar hy baie diep spore getrap het. Bert se oophand vir mense wat swaarkry sal vir ons gemeenskap altyd ‘n riem onder die hart bly.

Platinum Bushvelder het in uitgawe van 19 Januarie 2018, die voorreg gehad om ‘n onderhoud met Bert te voer. Hy het gesê: “Ek het ‘n visie om mense te help wat swaarkry en om die Northam gemeenskap te bou met liefde en geloof.”


“Bert was ‘n groot man met ‘n sagte hart en opregte mens, ‘n regte ‘teddiebeer’. Hy was my rots,” aldus Anita Britz, sy suster. 


Ons betuig ons innige meegevoel aan Bert se familie en vriende.
Teen druktyd was daar nog nie roudiens besonderhede beskikbaar nie.

Wyle Bert Kriel.