VAN TOEKA TOT NOU Thabazimbi Skopboks Klub

Thabazimbi – ‘n Mens kan nie ‘Thabazimbi’ of ‘skopboks’ sê sonder om te dink aan ons eie Peet van Breda nie.
Na ‘n ryk boks-loopbaan, het Peet in 1984 homself aan Kyokushin karate begin toewy. Nadat hy springbokkleure in dié karate styl bereik het, begin hy met skopboks. Hy verwerf hier ook sy springbokkleure en word nasionaal en internasionaal gesertifiseer as afrigter, beoordelaar en skeidsregter.
Met goeie ondervinding in beide vegkunste, besluit Peet om in 1986 ‘n skopboks klub te open. Die eerste klub het sy deure geopen vanuit Thabazimbi se Bonanza Oord – waar tannie Poppie die eienaar was. Klasfooie het R25 per maand beloop en registrasie was R10 per jaar.
Die studente het demonstrasies aangebied by skoue, wildsfeeste, kerke en skole. Toernooie is ook plaaslik gehou waarvan die hoogtepunt die Bundu Bash reeks was.
Oor die jare heen het Thabazimbi Skopboks Klub 21 junior en senior springbokke opgelewer en funksioneer nasionaal en internasionaal. Dié klub wat onder andere selfverdediging klasse, fiksheid, sport en verskeie vegkunste aanbied, staan al sterk vir 34 jaar.
Die Thabazimbi Skopboks Klub het al verskyn in menige televisie uitsendings en selfs ‘n dokumentêr wat oor vegkunste in Amerika versprei is.
Benewens plaaslike suksesse, was daar ook besoeke aan elke kontinent waar lede aan wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Daar was selfs ‘n vakansie-oefenkamp vir ouers en studente in Phuket, Thailand, by die wêreldberoemde Tiger Muay Thai skool.
“Die hoogtepunt is altyd om gestremde studente te kan akkommodeer, wat vir baie trots sorg,” aldus Peet. “Baie dankie aan die wonderlike gemeenskap wat ons altyd ondersteun, die uitsonderlike studente en ondersteunende ouers.”
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: Van Toeka Tot Nou.
