“Kom ons gaan draf om Kilimanjaro!”

Thabazimbi – Ons eie Zanie van Rensburg en Wilma Pienaar het Kilimanjaro te Tanzanië op 19 Augustus aangedurf.
In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder, vertel Zanie: “Ons het rég rondom hierdie reuse berg gehardloop.
Daar was baie styl en nou dele wat deel van die roete gevorm het.
Die afgronde was gevaarlik en die hoogtes afgryslik – selfs vir my wat nie hoogtevrees het nie. Ons moes behoorlik klim en klouter!”
Zanie en Wilma het al verlede jaar begin voorberei om hierdie uitdaging aan te durf. Hulle moes onder andere 80km en 120km ‘n week hardloop oor ‘n vier-week tydperk. “Ons het in totaal 282km gehardloop, om al drie pieke van die reuse berg,” voeg Zanie by.
Zanie en Wilma het as ‘n grap ‘most extreme trailrun in Africa’ op die internet gesoek en het op Kilimanjaro afgekom. Hulle het net daar en dan besluit om die roete aan te durf.
Die reënweer in Tanzanië het die omstandighede bemoeilik, en moes Zanie en Wilma in tente slaap en soggens uitklim met nat tekkies en hare. Voor sonsopkoms het hulle die roete aangepak en saans weer in ‘n skottel gebad.
Hulle was twee van agt atlete wat hierdie jaar keuring gekry om die roete te voltooi. Hulle mede-atlete was van Botswana, Amerika en Frankryk. Zanie en Wilma was nie net die eerste Suid-Afrikaanse vrouens wat die roete aangedurf het nie, maar ook die eerste Suid-Afrikaners!
Die roete is aanvanklik begin om mense regoor die wêreld te wys hoe Tanzaniërs lewe. “Dit het my opnuut laat besef dat, ten spyte van alles wat ons ons land aangaan, lewe ons nog steeds in die land van melk en heuning. Ek kan saans my kraan oopmaak en ek het water, ek kan ‘n ligskakelaar aansit en daar is krag. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Ons is albei baie dankbaar en nederig na die ondervinding,” aldus Zanie.
Vir Wilma was die asemrowende natuurskoon en die interessante mense wat sy ontmoet van die hoogtepunte van die uitdaging. Volgende op die twee avontuurlustige atlete se bucket list is die woestyn en Antarktika.
