APIESDORING KARNAVAL Hoogtepunte en program

Thabazimbi – Min dinge in hierdie landjie van ons is nog gratis... Daarom is die gratis toegang by die Apiesdoring Karnaval met sy hope pret en vermaak, ‘n uitsondering.
Kul jou hier, kul jou daar – en siedaar! Dis wat jy te wagte kan wees om 9vm met Wiaan die bekende kulkunstenaar. Ouers moet seker maak dat hulle kinders nie sy vertoning mis nie.
Om 10vm kry die fraaie Franja du Plessis – dogter van Juanita – kans om besoekers te vermaak met haar mooi sang.
Om 11vm sal die olifante trompetter. Dis dan die tyd wat die jaarlikse dieregeluid namaak-kompetisie plaasvind. Drie pryse van R5,000, R3,000 en R2,000 – geborg deur Northam Toyota – is te wen.
Die veiling om 12nm is vir baie besoekers ‘n belewenis... want met Jan Smit wat skerts as afslaer word menige bieër se beursie dunner.
Daar is pragtig handgemaakte meubels, ‘n jagmes, ‘n roomafskeier en nog baie meer. ‘n Suiwer Afrikaneros met sy weglê-horings sal op die terrein staan en opgeveil word. Hierdie bielie van ‘n os is so skaars soos hoendertande en boere sowel as rolspelers in die vleisbedryf sal nie gou weer kans kry om op so dier te bie nie.
‘n Jong Simmentaler teelbul uit die bekende Amande stoetkudde sal ook te koop aangebied word. Hy is 15 maande oud en met bietjie geduld, kan ‘n kommersiële beesboer ‘n goeie bul vir die toekoms besit. Sy pa is Amande Elhano en sy moeder Amande Dornici.
Die bul kom uit ‘n baie goeie bloedlyn.
Om 1:30nm is dit Adam Tas se beurt om met sy boere-hart ons gaste te vermaak.
‘n Eland wat op die spit gebraai word is vanjaar ‘n uniekheid. Dis ‘n delikatessen wat min van ons al ooit al geproe het.
Kuiergaste kan regmaak vir heerlike lekkernye. Rika se gebakstal is in 2019 ‘n mega-stal met die heerlikste soet en sout gebak... En die maak-‘n-hap stalletjie van Ester is ‘n heerlike plek waar tee saam gebak geniet kan word onder die Apiesdoringbome.
Nog nie oortuig nie? Kom dan vir die pap en kaiings, pap en wildslewer of skilpadjies, potbrode, melkkos, afval en stampmielies, skaap oppie spit, roosterkoeke met heerlike vulsels en vele meer!
Daar is soos altyd talle speletjies en vermaak vir die kinders.
Die Thabazimbi Apiesdoring Karnaval vind plaas DV Saterdag 3 Augustus by die Hervormde Kerk. Vir navrae kontak Izak Joubert by 083 488 6357 of Hennie van der Linde by 083 507 0335 of gaan kyk op die net by www.apiesdoringkarnaval.co.za.
