VARS VLEIS EN BILTONG MEKKA! Thabazimbi Apiesdoring Karnaval

Thabazimbi – Goedkoop vleis is skaars... Maar goedkoop, A-graad vleis nog skaarser... En dis wat die Apiesdoring Karnaval bied!
Veertig jong tollies is die laaste vier maande by Tuffy Reyneke se voerkraal afgerond. En dis dié vleis wat die tafels sal laat kreun en te koop aangebied word DV Saterdag 3 Augustus.
Ons voorsitter, Izak Joubert, sê gereeld ons pryse weerspieël iets van ons ingesteldheid op barmhartigheid – want hier kan jy met min geld, prima vleis koop.
Die verkope skop 7:30vm af – net na ds Hennie vd Linde die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen het.
Die organiseerders wil juis hê kopers moet vroeg klaar gekoop wees sodat hulle die dag se gratis vermaak met verskeie kunstenaars kan geniet.
Maak gerus gebruik van die koeltrok-gerief met jou naam, van en ‘n nommer op ’n kaartjie op jou vleispakke. So kan jou vleis heeldag vars bly totdat jy dit weer kom haal na Adam Tas se vertoning laatmiddag.
Pryse sluit in: top boerewors R65-00 p/kg, brisket R55-00 p/kg, gemengde kookvleis R45-00 p/kg, kort rib R55-00 p/kg, maalvleis R65-00 p/kg, nek R49-00 p/kg, skenkels R55-00 p/kg, steak R79 p/kg, en tong R60-00 p/kg. Vleis word spesiaal vakuum-verpak sodat dit langtermyn gevries kan word.
Met ‘n vleisspan van oor die 50 helpers is die bediening vinnig en flink...
En ‘n ouderling sal soos altyd by die ingang van die vleissaal staan en braai en vir besoekers ‘n proetjie gee van die boerewors, ‘russians’ en wildsalamis.
Nog ‘n trekpleister is die biltongstal onder leiding van John Henry Keyser.
Waar in Suid-Afrika koop jy nog rooibokbiltong teen R150 p/kg, ander wildsbiltong teen R170-00 p/kg en beesbiltong R180-00 p/kg? Tonne wildvleis en meer as ‘n ton beesvleis is gedroog vir biltong - alles skenkings van lidmate en vriende van die Hervormde kerk op Thabazimbi.
‘n Groot dank aan lidmate en karnaval vriende wat met hulle skenkings dit moontlik maak om sulke voorrade en pryse te kan bied. Kaartfasiliteite is beskikbaar.
Die Thabazimbi Apiesdoring Karnaval vind plaas DV Saterdag 3 Augustus by die Hervormde Kerk. Vir navrae kontak Izak Joubert by 083 488 6357 of Hennie van der Linde by 083 507 0335 of gaan kyk op die net by www.apiesdoringkarnaval.co.za.
