VAN TOEKA TOT NOU...Thabazimbi Apiesdoring Karnaval

Thabazimbi – Die Thabazimbi Apiesdoring Karnaval het al sedert van 2008 vir groot opwinding in die kontrei gesorg.
Die karnaval wat in 2008 sowat 3,000 voete gelok het, groei van krag tot krag – en 10 jaar later in 2018 woon ongeveer 9,000 feesgangers die karnaval by.
Die karnaval het elke jaar sy eie tema:
- 2008 - Gasvryheid is in ons kultuur
- 2009 - Apiesdoring koningboom
- 2010 - Oos, Wes, tuis bes
- 2011 - Laat die wiele rol
- 2012 - Afrikaners pak die bul by die horings
- 2013 - Sak Sarel, pa wil ‘n bok skiet
- 2014 - Bloed is dikker as water
- 2015 - Wilde Weste
- 2016 - ‘Chill’ en hou karnaval
- 2017 - Toeka tot Nou
- 2018 - Liefde is so wyd soos die Heer se Genade
- 2019 - Wild is bosveldgoud
Mense kom jaarliks van heinde en vêr om die feesgeleentheid by te woon – en om ook altyd die gaskunstenaars te geniet.
DJ Ossewa was die eerste kunstenaar wat in 2008 by die karnaval opgetree het. Deur die jare het Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Juanita du Plessis, Thys die Bosveldklong, Bobby en Karlien Jaarsveld, Lianie May, Robbie Wessels, Snotkop en Theuns Jordaan ook opgetree in die bosveld. Dié jaar se karnavalgangers kan uitsien na vertonings deur Adam Tas en Franja du Plessis.
Asof dit nie genoeg opwinding is nie, het die karnaval van 2010 af elke jaar ‘n geluid-naboots kompetisie. Die kompetisie sorg altyd vir skaterlag!
Die heel eerste kompetisie moes deelnemers balk soos ‘n donkie. Dit is gevolg met die tjank van ‘n jakkals, die bulk van ‘n bul, brul van ‘n leeu, lag van ‘n hiëna, runnik van ‘n perd, koel-koel van ‘n kalkoen, die poep van ‘n listerenjin, en die tierelier van ‘n visarend. Deelnemers kan solank vir 2019 voorberei om te trompetter soos ‘n olifant!
Kantoor administratiewe dame van die Nederduitse Hervormde Kerk, Christa Marshall, waar die karnaval elke jaar gehou word het gesê:
“Die kerkterrein was nog altyd pragtig en perfek vir die karnaval. Die karnaval het klein begin met net een ry stalletjies en het later geskuif na die sirkelstalle, om meer voetgangers te kan akkommodeer.
Dit is elke jaar ‘n belewenis!”
Die karnaval vind plaas DV Saterdag 3 Augustus om 7:30vm by die Hervormde Kerk net buite die dorp. Toegang is gratis.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi, Northam en nabye areas oor die jare heen te deel met ons lesers, getitel: van toeka tot nou.
