Headlines

EN TOE IS DIT WINTER... [Skrywe aan die Redakteur] 

12 July 2019 · Platinum Bushvelder

EN TOE IS DIT WINTER...
[Skrywe aan die Redakteur] 

Ek het dit eers vinnig gelees tot ek by die derde sin gekom het... Ek het opgehou en weer van vooraf begin lees, maar dié keer stadiger – dit laat jou regtig stop en dink.


Jy weet... tyd het ‘n manier om vinnig te loop en jou onverhoeds te betrap sonder dat jy aan die verbygaande jare dink. Dit voel soos net gister wat ek jonk was, net getroud is en my nuwe lewe saam met my maat begin het. Tog, op ‘n manier, voel dit soos ‘n leeftyd gelede en ek wonder waar al die jare heen is. Ek weet dat ek almal geleef het, ek kry terugflitse van hoe dit tóé was, en ook van al my hoop en drome.


Maar hier is dit... die winter van my lewe, en ek is verras... hoe het ek so gou hier gekom? Waar is die jare heen en wat het van my jeug geword? Ek onthou so goed hoe ek deur die jare na ouer mense gekyk en gedink het dat ek baie jare agter daardie ouer mense is – en dat die winter so ver weg was – dat ek myself nie kon indink hoe dit moes wees nie.


Maar, hier is dit... my vriende word grys en tree af, hulle beweeg stadiger. Sommiges lyk beter en ander slegter as ek, maar ek sien die groot verandering. Nie meer dié wat ek onthou wat jonk en lewenslustig was nie, maar, soos ek, begin hulle ouderdom wys en óns is nou daardie ouer mense wat ek gesien, maar nooit gedink het ek ooit sal word nie. 


En so betree ek ‘n nuwe seisoen van my lewe... onvoorbereid op al die skete en kwale, en die verlies van krag en die vermoë om te gaan doen wat ek nog altyd wou, maar nooit het nie! Maar ten minste weet ek, hoewel my winter gekom het, ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie... Wat ek wel weet, is dat wanneer dit hier op aarde verby is, is dit verby... ‘n nuwe avontuur sal begin!


Ja, ek het verwyte, en ek is jammer oor dinge wat ek wens ek nie gedoen het nie, dinge wat ek moes gedoen het, en baie dinge wat ek gedoen het, waaroor ek bly is. Dit is alles deel van ‘n leeftyd.
So, as jy nog nie in die winter van jou lewe is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger hier sal wees as wat jy dink. So, wat jy ook al graag in jou lewe wil bereik, doen dit asseblief gou! Moenie dinge te lank uitstel nie! 


Die lewe gaan gou verby. 


Doen vandag wat jy kan want jy kan nooit seker wees of hierdie jou winter is of nie! Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van jou lewe gaan sien nie, so leef vir vandag en sê vir jou geliefdes al die dinge wat jy wil hê hulle moet onthou... en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle in jou leeftyd gedoen het!


Die lewe is ‘n geskenk aan jou, en die manier waarop jy jou lewe leef, is ‘n geskenk aan dié met wie jy dit deel. Leef goed! Leef voluit! Geniet vandag, élke dag! Doen iets wat jy geniet! Wees lief vir ander!
Goeie gesondheid is ware rykdom, nie goud en silwer nie.


Vandag is die oudste wat jy nóg was en tog ook die jongste wat jy ooit sal wees – so, geniet hierdie dag vir solank dit duur!


Om uit te gaan is goed, maar om by die huis terug te kom is beter! 
Maar oud is goed in sommige dinge: ou liedjies, ou flieks, ou wyn, en beste van alles... ou vriende! 
Dit gaan nie oor dit wat jy bymekaarmaak nie, maar dit wat jy uitdeel – wat vertel van die soort lewe wat jy geleef het! Maak mooi!


Oom Mamba