Schools & sport

SUPERUGBY 2019

28 June 2019 · Platinum Bushvelder

SUPERUGBY 2019

Crusaders vs Highlanders
In die eerste kwart-finaal van 2019, in Christchurch, speel die Saders kookwater ruggas en klop die moedige Highlanders met 38-14. 


Die nommer twee All Black losskakel, Richie Mo’unga, was die ster van die game en teken 23 punte aan wat twee puik drieë insluit. Dit is net ondenkbaar dat die mannetjie nie eerste keuse op losskakel vir die All Blacks is nie... ‘n Groot geveg wag in die half-einde waar Mo’unga en Beauden Barrett mekaar die stryd gaan aansê. 


Die Crusaders en die Canes draf volgende in Christchurch uit om te bepaal wie in die eindstryd van die 2019 Super Reeks sal speel. Dit sal beslis ‘n helse grote kos om die Saders, die 2018 kampioenspan, te onttroon.


Hurricanes vs Bulle
In Wellington het die Bulle moedig probeer maar was op die dag net nie goed genoeg om die Canes te troef nie. 


Die Canes wen 35-28 en dring deur om in ‘n half-einde teen die Crusaders te gaan uitdraf in Christchurch. Die Canes het wel vroeër in die reeks verloor teen die Saders, maar die verskriklike tweeling wat verlede naweek in hulle 100ste game saam gespeel het, by name TJ Perenara en Beauden Barrett, het nie ‘die verloor-game’ gespeel nie. Wat ‘n tweestryd gaan dit nie wees tussen die beste skakel-pare in vanjaar se reeks nie... vingerleklekker!


Die Bulle se Cornal Hendricks het puik gespeel en is beloon met twee puik drieë. Handré Pollard het ‘n groot blaps gemaak wat gelei tot ‘n drie vir die Canes en sal sy laaste game vir die Bulle so gou moontlik wil vergeet. Die jong voorry speler, Lizo Gqoboka, het sy aandele vir ‘n plek in die Bokspan ook laat styg met ‘n great vertoning.


Brumbies vs Haaie
In Canberra klop die Brumbies die Haaie gemaklik 38-13 om deur te dring na ‘n semi-finaal teen die Jaguares in Buenos Aires. 


Dit Brumbies het 15 jaar gelede die Super-kroon gedra en sal beslis gefokus wees om die een te wen en in die finaal te kan speel... Maar maklik gaan dit egter nie wees nie! Vroeër vanjaar het die Argentyne met 20-15 gewen en is op hulle tuisveld byna onstuitbaar. Wat wel in die Brumbies se guns kan tel, is hulle vaste vyf wat kookwater rugby speel.


Jaguares vs Chiefs
Die Argentyne maak geskiedenis en klop die Chiefs in Buenos Aires 21-16 in ‘n riller om vir die eerste keer ooit in ‘n Super semi-finaal te speel. Hulle kom teen die Brumbies te staan in Buenos Aires en kan dalk as die gunstelinge beskou word vir die een. 


Die Jaguares se span wemel van Puma-spelers en het vanjaar vriend en vyand verras met hulle nuwe spelpatroon en was nie juis as ‘n uitspeel kandidaat beskou nie, maar hulle het weereens bewys dat Super-ruggas nie vir sussies is nie.


Nag ou grote...