Headlines

Sussies vier groot verjaarsdae saam

24 May 2019 · Platinum Bushvelder

Sussies vier groot verjaarsdae saam

Northam – Sussies Corrien en Jacolien van Dyk het op 18 Mei ‘n groot partytjie gehou om hul verjaarsdae te vier. Corrien het haar 21ste verjaarsdag gevier en Jacolien haar 18de.

Vir beide was dit ‘n groot mylpaal en ‘n groot makietie was aan die orde van die dag.
Die oggend is afgeskop met ‘n elegante teepartytjie by De Put, wat deur Annatjie Potgieter gereël is. Die gaste was fraai opgetooi in hul hoede en hakke.

Ma, Betsie Theron, het ‘n roerende boodskap aan hulle oorgedra: “Julle tweetjies moet onthou, ons kry verskillende liefdes.

Liefde vir familie, vriende, pa en ma... Maar die grootste liefde is vir die Here.

Onthou om altyd Sy liefde uit te dra, Hom in julle besluite te ken, en in julle harte vas te hou – want sonder die Here is ons niks. Hy is ons Stuurman en ons Leidsman.”


Met die formele tee agter die rug, was dit tyd om die hare los te maak en die hakke te ruil vir ‘n paar dansskoene. ‘n ‘Jail break’ partytjie is gehou! 


Al die gaste moes soos tronkvoëls aantrek – en dit was groot pret. Familie en vriende het van heinde en verre gekom. Tente was orals sigbaar op die plaas Groot Geluk. Corrien en Jacolien het met ‘n gejuig in ‘n polisievangwa ingekom. 


Baie dankie aan kaptein Pieter du Plessis wat dit vir hierdie twee jong dames so spesiaal gemaak het. Daar was gekuier en geskoffel tot laat om dié spesiale verjaarsdae te vier. Baie geluk en baie sterkte op julle lewenspad vorentoe!

Van links: Corrien en Jacolien van Dyk vier hul verjaardae saam.