Geliefde Northam inwoner oorlede

Northam – Op 10 Mei het Northam ‘n geliefde eggenoot, ma, ouma, oumagrootjie en steunpilaar van die gemeenskap aan die dood afgestaan.
Mary van Zyl se skielike afsterwe op die ouderdom van 80 sal ‘n leemte in die gemeenskap laat. Sy was ‘n rots vir almal, en het met elke welwillendheidsfunksie moue opgerol en hand bygesit.
Mary en haar eggenoot Jan van Zyl sou in November 2019, hu; 60 jaar huweliksherdenking gevier het. Mary gaan vreeslik gemis word en haar plek sal leeg wees.
Haar innemende persoonlikheid en liefde vir haar medemens en haar familie is iets wat altyd onthou sal word.
Dan moet ons nie vergeet hoe sy voet in die hoek kon sit as sy haastig was nie! Sy sal onthou word as ‘n op-en-wakker, sterk vrou, wat altyd geglimlag het en bemoedigend was. Sy was ‘n vrou wat die Here met ‘n passie gedien het. Haar geloof deur al haar jare het haar staande gehou. Sy was ‘n lewende getuie vir almal wat haar geken het!
Die familie wil ook van die geleentheid gebruik maak om die Northam gemeenskap te bedank vir hul bystand. Sy sal baie gemis word deur haar eggenoot, drie kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, familie en vriende.
Die begrafnis vind plaas op 17 Mei vanuit die Lewende Woord Swartklip om 11:00, waarvandaan sy ter ruste gelê sal word in Northam. Die diens sal deur pastoor Donnie van Tonder waargeneem word.
