VAN TOEKA TOT NOU Mollie Jourdan Park

Thabazimbi – JH Williams, ‘n prospekteer, het Vliegenpoort se reeks berge gewaar in 1919, terwyl hy met beitels en hamers na ‘n stukkie rykdom loop soek het.
Die Krokodilrivier wat deur die poort vloei het die berghange ingevreet. Dit is waar Williams ‘n donkerkol in die rotshang opgemerk het. Hy het dadelik begin grawe en het op die rykste hematiet-neerslae in Suid Afrika afgekom. Hy het prospekteerregte verkry en sy vonds het onmiddellike belangstelling gelok.
Dié area staan vandag bekend as Thabazimbi.
Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi oor die jare heen te kan deel met ons lesers. Ons hoofbron kom uit die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.
Platinum Bushvelder het bietjie terug gegaan in die verlede en sal vir die volgende paar weke berig oor verskeie landmerke en gedeeltes van Thabazimbi, onder die titel ‘Van toeka tot nou’.
Peet van Breda woon al vanaf 1987 in Thabazimbi. In ‘n onderhoud met Peet gesels hy oor wat hy van die ou Thabazimbi onthou.
“Mollie Jourdan Park sal vir altyd baie diep wortels in die gemeenskap se harte skiet. Ek onthou nog hoe die kinders jare terug hier baljaar het. Dit was ‘n besondere park! Ons eie klein paradys,” vertel Peet.
“Dit breek my hart om te sien hoe hierdie park vandag lyk. Die park het soveel potensiaal en ek hoop dat dit weer eendag so mooi kan wees.
Die Kremetartbome wat Mollie Jourdan destyds geplant het, staan trots en sterk... tussen al die lang gras en vullis. Die bankies smag na ‘n lagie verf.”
Die dorp was nie net ‘n bly- en werksplek nie. Ongeveer 120 kinders het bygedra dat Thabazimbi ‘n tuiste word. Die vrouevriendekring, onder Molly se leiding, het na die welstand van die gemeenskap se mense omgesien.
Hulle heel eerste prioriteit was om vir die kinders ‘n plek met gesonde ontspanning te bied. Terwyl die mans die myn beman het, het die vrouens en kinders hierdie park gebou. Die park was hulle speelplek.
