Week 10 Superugby 2019

Chiefs vs Leeus
Die Johannesburgers oorleef ‘n stresvolle week in Hamilton en toon guts en passie om die Chiefs 23-17 te troef. Coach Swys keer onverwags terug SA toe weens persoonlike redes maar onder leiding van cappie Warren Whiteley verras hulle en behaal ‘n welverdiende oorwinning ou grote.
Die Leeus draf volgende teen die Crusaders in Christchurch uit met die Chiefs wat in ‘n Nieu-Seelandse derby teen die Hurricanes gaan speel in Wellington.
Sunwolwes vs Hurricanes
Die Japanese Wolwe sorg amper weer vir ‘n opskudding maar verloor 23-29 teen die Canes in Tokio. Die Canes moes verbete terugveg om hierdie een te wen en beklee tans die vierde plek op die log met 27 punte.
Die Canes en die Chiefs is volgende in Wellington met die Wolwe wat in Tokio teen die Highlanders te gaan uitdraf.
Haaie vs Reds
In Durban duur die treurmare steeds voort in die Haaikamp en hulle verloor 21-14 teen die Reds ou grote. Wat nogal interessant is, is dat die tuisveld faktor vir ander spanne ‘n groot voordeel is, maar blykbaar nie vir die Haaie nie...
Hulle volgende game is teen die Waratahs in Sydney en hopelik sal die toer na doer onder hulle weer op die wenpad plaas. Die Reds beleef ‘n loslootjie in week 11.
Highlanders vs Blues
Die Highlanders wen hierdie titaniese stryd teen die Blues in Dunedin 24-12. Goeie ruggas is opgedis op die dag en die manne van Auckland toon steeds ‘n groot verbetering teenoor verlede seisoen.
Die Blues verdien ‘n loslootjie in week 11 met die Highlanders wat Tokio toe gaan reis om teen die Japanese Wolwe te gaan opdraf.
Waratahs vs Rebels
Die Tahs slaag daarin om die Rebelle in Sydney met 23-20 te klop. Die Rebels is ten spyte van die verloor nog steeds tweede op die log met 24 punte met die Crusaders eerste met 34 punte. Die Rebels het ‘n loslootjie in week 11 met die Tahs wat teen die Haaie in Sydney gaan speel.
Stormers vs Brumbies
Another one bite the dust... is ‘n liedjie wat duisende SA ondersteuners seker Saterdagaand langs die braaivleis vure gesing het.
Die wyn en die trane het weer gevloei in die Kaap met die Stormers wat 19-17 teen die Brumbies op Nuweland verloor. Wat Flekkie en kie nou gaan gebruik as verskoning sal beslis nie buite die kleedkamers openbaar gemaak word nie.
Die Kapenaars draf volgende teen die Bulle op Nuweland uit wat duisende superbru outjies lelik gaan laat kopkrap ou grote. Die Brumbies reis Buenos Aires toe om teen die Jaguares uit te draf.
SA KONFERENSIE PUNTE TABEL:
- Bulle - 23
- Leeus - 22
- Haaie - 22
- Jaguares - 19
- Stormers - 19
Nag ou grote...
