Leer meer oor die VUURwapenwet

Boere leer meer oor die vuurwapenwet
Northam – Northam Boerevereniging het op Woensdag 3 April hul maandelikse vergadering gehou. Jaco van Vuuren, ‘n assessor van Thabazimbi, het hulle meer kom vertel oor die vuurwapenwet.
‘n Besondere interessante aspek wat onder andere bespreek is, is dat twee mense, in dieselfde huis, vir dieselfde wapen, vir ‘n lisensie kan aansoek doen.
Persone wat aan die jagtersvereniging behoort kan vir tot 16 jagwapens aansoek doen. Hierdie voordeel is veral gemik op buitelandse jagters, maar selfs plaaslike jagters kan van die voordeel gebruik maak.
Wapen eienaars moet daarop let dat jy slegs 200 rondtes ammunisie per wapen in jou besit mag hê. Sorg dat jou wapens en ammunisie, altyd in ‘n South African Bureau of Standards (SABS) goedgekeurde kluis gestoor word. Moenie dat ammunisie in die huis of in jou voertuig rondlê nie.
Johan Jacobs, sameroeper vir omgewingsbestuur en paaie, het verder ook terugvoer gegee oor die vordering van die teerpad tussen Swartklip en Dwaalboom, wat bykans voltooi is. Johan Young het ook geraporteer oor die veiligheidsituasie.
Piet Strydom moet die vordering van munisipale aangeleenthede deurgee en hy het ook sy spreekbeurt gekry. Die volgende vergadering sal op 1 Mei, in Northam se veilingskrale gebou gehou word.
