HFM se eerste netbalspan gaan toer

Thabazimbi – Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) se eerste netbalspan het ‘n besige vakansie gehad. Van 18 tot 22 Maart het hul ‘n vakansiekursus by Sun City bygewoon.
Die spelers het individueel baie ontwikkel en geleer. Oefenwedstryde is in die aand gespeel waar speltegnieke en patrone toegepas moes word. Hulle speel sewe wedstryde waarvan hul vyf wen en twee verloor.
Dit was ‘n harde week, maar baie suksesvol.
Van 26 tot 30 Maart neem hulle deel aan ‘n netbaltoernooi by Paarl Gimnasium. Hulle vlieg vanaf Lanseria. Dit was ‘n belewenis!
In die Kaap het hul Franschhoek se monumente en wynplase besoek. Hulle het ook Stellenbosch se universiteit gesien en rondgeloop in die lieflike straatjies en winkeltjies. Natuurlik moes hulle ook ‘n draai gaan maak by Bloubergstrand en die Waterfront.
Die laaste dag het hul besoek afgelê by die Fairview wyn- en kaasplaas.
Tien eerste spanne het aan die toernooi deelgeneem. Die hoeveelheid wedstryde wat gespeel is, was van groot waarde. Die speelsters het baie goeie ervaring opgedoen om by verskillende situasies aan te pas. Hul het hulle eie talente en tekortkominge leer ken en moes leer om druk te hanteer.
Die span het baie goed as eenheid ontwikkel. HFM wen ses van die nege wedstryde in die toernooi.
Baie dankie vir elke persoon se ondersteuning om hierdie geleentheid ‘n werklikheid te maak. Dankie aan elke ouer en die gemeenskap wat gehelp het met die insameling van fondse. HFM waardeer dit opreg
