Hond verskeur 6-jarige

Pretoria/ Thabazimbi – ‘n Rottweiler het Woensdagaand 27 Maart, die 6-jarige Caylee Young in Pretoria aangeval.
Caylee, dogter van Jessica en Alban Young, was saam met haar ma om ‘n sleutel vir hul nuwe blyplek in Pretoria af te haal. By hul aankoms het Jessica die motordeur oopgelos omdat Caylee nog vasgegespe was in haar stoel, op die agterste sitplek.
Die volgende oomblik het Caylee vreeslik gegil, Jessica het onmiddellik nader gestorm en gesien dat die hond in die voertuig gespring het en besig was om Caylee aan die been te byt. Die hond wou nie los nie en Jessica het probeer om sy kake oop te forseer. In die proses het die hond Jessica se regterhandse ringvingerpunt afgebyt en haar middelvinger oopgeskeur.
Die man by wie hulle die sleutel moes kry het gepoog om Caylee los te kry en met haar te vlug, want die hond wou haar net nie los nie.
Hulle kon uiteindelik daarin slaag om die hond af te weer – en Jessica het terstond met Caylee hospitaal toe gejaag. Die polisie is geskakel en moes by aankoms die hond van kant maak.
Caylee is in Groenpunt hospitaal opgeneem en was vir vier ure in die teater. Net voor sy die teater ingestoot was, het haar pa Alban, wat van Thabazimbi deurgery het, by die hospitaal aangekom – wat vir ma en dogter ‘n groot verligting was.
Sy het 150 steke vir die 16 bytplekke aan haar bene en arms ontvang. Die een been is baie lelik verskeur.
Jessica was agtien jaar woonagtig in Thabazimbi, voor hulle besluit het om vanjaar na Pretoria te verhuis.
Martie Scruton, Jessica se tannie was nog baie geskok, toe sy die volgende dag die tragedie deel met die Platinum Bushvelder. Sy is ook baie dankbaar dat die hond nie die kind in die gesig gebyt het nie.
Caylee is stabiel en sterk tans aan in die hospitaal, maar sal moontlik nog verdere behandeling moet ondergaan.
Jessica en Alban wil almal graag bedank vir hulle bystand en gebede in die moeilike tyd.
