Die Voortrekkers hou waterkaskenades

Thabazimbi – Die Voortrekkers het op Donderdag 14 Maart waterkaskenades gehou vir die kinders van die gemeenskap.
Dit was ‘n dag vol pret en skaterlag terwyl hulle waterspeletjies gespeel het.
Daar is ‘n behoefte in die gemeenskap raakgesien om kinders weg te kry voor die televisie en weer lief te maak vir die natuur.
Die Voortrekkers is ‘n nie-winsgewende organisasie en val onder Transvaal Voortrekkers. Hier leer kinders nuwe vaardighede en gaan op leersame uitstappies. Elke offisier wat betrokke is gee hul eie vrye tyd en verdien geen salaris nie. Hulle koop hulle eie toerusting om die kinders op ‘n kreatiewe wyse besig te hou en meer te leer oor die voortrekker lewe.
Die Voortrekkers Thabazimbi span rig ‘n versoek aan die gemeenskap om betrokke te raak. Hulle maak staat op die gemeenskap en ouers, as dit kom by kampe en uitstappies.
Onder die behoeftes is vervoer van die kinders na uitstappies en kampe asook kampterreine waar hulle kan kamp. Lede van die gemeenskap kan ook bydra om as toetsoffisiere op te tree vir die spesiale take wat die kinders deur die jaar moet verrig.
Indien jy wil deel wees van die Voortrekkers, kontak kommandoleier Danie Naude op 082 738 6737 vir meer inligting.
